Skip to content
Menu

Ester 6:10

‘Toe sê die koning vir Haman: Neem gou die kleed en die perd soos jy gespreek het, en doen so aan Mórdegai, die Jood, wat in die poort van die koning sit; jy moet nie een woord onvervuld laat bly van alles wat jy gespreek het nie.’

God se fynwerk bewerk ommekeer vir sy volk

By die aanvang van Ester 6 se gebeure lyk die toekoms van die Here se volk baie donker. Haman het vanweë sy haat vir Mordegai die koning van Persië oortuig om die hele Joodse volk te laat uitroei. Hy het selfs ’n hoë galg vir Mordegai laat bou en is op die punt om die koning se toestemming te kry om vir Mordegai te laat ophang. Alhoewel koningin Ester dit reggekry het om ’n maaltyd te reël waar sy die koning sou probeer oortuig om die Jode te spaar, lyk die prentjie vir Mordegai en die Jode steeds donker. Dit is ten minste so aan die begin van Ester 6. Aan die einde van die hoofstuk is die prentjie egter totaal omgekeer. Dit is dan opmerklik dat daardie omkeer plaasgevind het, sonder dat die Here se naam, of die een of ander wonder genoem word. Ons sien dan in die geskiedenis keer op keer hoe die Here se volk in nood verkeer. Ons sien ook hoe Hy hulle lot omkeer. Hy doen dit nie noodwendig in groot en magtige dade nie, maar in klein goedjies.

God se Fynwerk

In die eerste deel van Ester 6 word die Here se werk eintlik baie duidelik vir ons gewys. Kyk maar hoe die die gebeurtenisse wat beskryf word en die uiteinde wat bereik word nie deur een van die handelende karakters in die gedeelte veroorsaak word nie. Ahasveros kan nie slaap nie. Eerder as om vir hom vermaak te reël luister hy hoe die kronieke voorgelees word. Sonder enige toedoen van mense word Mordegai se heldedaad voorgelees. Anders as gewoonlik word bevind dat hy nie beloon is nie. Op die perfekte tydstip kom Haman by die koning. Sonder enige spesifieke rede praat die koning eerste met Haman. Sonder enige doelbewuste rede noem hy nie die naam van die man aan wie die koning eer wil bewys nie. Die uiteinde: Haman word verneder voor God se onderdaan, Mordegai. Die Here se fyn beskikking word duidelik wanneer ons terugkyk. Dit word duidelik as ons besef wat net sowel kon gebeur het.

God se ommekeer

God het in hierdie gedeelte die hoogmoedige verneder en die ootmoedige verhoog. Die manier waarop Hy dit gedoen het was deur sy fyn beskikking oor klein gebeurtenisse. Die rede daarvoor was die redding van sy volk. So sien ons ook die Here se werksaamheid in die grootste redding van sy uitverkore volk. Dit is natuurlik bewerk deur die kruisdood van Christus. Kyk maar mooi wat alles met Christus gebeur het. Oënskynlik dalk niksseggend, maar uiteindelik in die hoogste belang van sy volk. Dink aan al die dinge wat aan Christis gedoen is. Dis dinge wat onder God se beskikking met Hom gebeur het, maar wat die sondeskulde van sy uitverkore volk vir ewig sou uitdelg.