Skip to content
Menu

Preekskets

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: 1 Konings 19:1-18      Belydenis: NGB Artikel 27     Teksvers: 18     Sing: Ps. 33:1,2,3,5; Ps. 122:1,2; Sb. 12-2:4,5; Ps. 150:1,2,3.

‘Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.’

DIE KERK IS EIENDOM VAN JESUS CHRISTUS

‘Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe…’ Skrikwekkende woorde van Elia. In sy tyd van nood sien Elia nie meer uitkoms nie. Hy is depressief. As profeet van die Here het hy hom vir die Here se kerk geywer. Maar dit voel so tevergeefs. Alles loop skeef. Daar is dan amper nie ‘n kerk oor nie. Maar dan hoor hy ‘n fluistering in die windstilte. Die stem van die Here – ‘Ek sal in Israel seweduisend laat oorbly.’  Elia mag hoor – God is in beheer. Die kerk is syne. Die mens moenie moedeloos word nie. Dit bring ons by die vraag: Wat is die kerk? ‘n Aktuele saak waaroor baie gepraat word. ‘n Vraag wat deur die loop van die eeue al baie gevra is. Die kerk is iets van die Seun van God. Kerk beteken ook letterlik – dit wat van die Here is. Ons Here Jesus Christus is dit wat ons hier bymekaar bring. Alles wat ons hier doen het met Hom te make. Elke Sondag bely ons in die geloofsbelydenis. Ek glo in die Heilige Algemene Christelike kerk. Hierdie kerk was daar van die begin af. Hierdie kerk was al daar in die tyd van Elia. Aan hierdie selfde kerk behoort ons vandag. Ons Koning Jesus Christus sal nooit sonder onderdane wees nie.

Die kerk van Jesus Christus is christelik

Die kerk is christelik. Ons as lidmate hiervan noem ons self so. Ons dra die naam van ons Koning. Hy aan wie die kerk behoort. Dat dit ’n christelike kerk is, sê direk iets oor die eienaar hiervan. Dit getuig dat dit Christus sin is. Hy wat self gesê het in Mattheus 18:20 – ‘Want daar waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde.’ Waar christene bymekaar kom, daar is Christus.

Die kerk van Jesus Christus is heilig

Dat ons glo die kerk is heilig, beteken nie dat ons wat in die kerk is, almal volmaak is nie. Ook nie dat hier nie sonde gebeur nie. Die sonde is orals.  Ons moenie die kerk as idealisties voor oë neersit nie. Heilig beteken die Here sonder iets vir Hom af. Deur te sê die kerk is heilig, dan sê ons die Here sonder vir Hom, ons as kerk af. Nie dat ons sondelose mense is, wat met die neus in die lug neerkyk op die res van die wêreld nie. Inteendeel, die hart van die saak hier, is dat die kerk juis die plek is, waar Christus met sondige mense wil saam leef.

Die kerk van Jesus Christus is algemeen

Die kerk is ook algemeen. In die NGB word ook die woord katoliek gebruik. Katoliek beteken dat die kerk nie gebonde is aan ’n bepaalde tyd nie. Die kerk is van alle tye, en sal ook vir altyd bly bestaan. Christus vergader sy gemeente van die begin van die wêreld tot aan die einde. Die einde wat tot in ewigheid toe sal bestaan.