Miga 7
‘Wie is ‘n God soos U? U is ‘n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi. U sal aan Jakob trou bewys, aan Abraham die troue liefde wat U aan ons voorouers met ‘n eed beloof het in die voortyd.’
WAT VERBYGAAN, BLYWEND IS EN NUUT WORD
Die nuwe jaar het aangebreek – 2024. Die laaste dae was vir heelwat van ons ‘n tyd van beplanning. Hoe gaan jy die nuwe jaar aanpak? Wat moet gebeur? Wat wil jy bereik? Wat lê vir ons voor? Meestal aan die einde van die jaar, dan word daar bekendgemaak wat die woord van die jaar was. So staan 2020 en 21 byvoorbeeld bekend as die koronajare. In 2023 het twee ander woorde na vore gekom. Dit is kunsmatige intelligensie – AI. Dit het in ‘n jaar se tyd drasties toegeneem in die lewe van amper elke mens. Die ander is outentiek, wat hiermee verband hou. Outenties beteken jy is eg, trou aan jouself. Jy moet jouself wees. In die wêreld van sosialemedia is dit ‘n aktuele tema. Vanoggend sluit ons hierby aan. Die lied wat Miga aan die einde van sy profesie sing, sit ons stil voor dit wat ons is. As ‘n kind van die Here gaan jy die lewe in as christen. Dan is jy outentiek.
God se woede gaan verby
In Miga 7 is dit opvallend wat daar staan oor God se omgang met ons sonde. Hy gooi dit in die diepte van die see. Die see was ‘n ondeurdringbare plek. As iets onder die golwe verdwyn, is dit vir altyd weg. In Miga 7 hoor jy – God bly nie woedend nie. Ons sondes roep God se woede op, maar God lê dit op Jesus Christus. Miga het die woorde van koning Dawid uit Psalm 103 geken – ‘Hy beskuldig nie vir ewig nie, en bly nie vir altyd toornig nie.’ (vers 9)
God se trou is blywend
Die trou waaroor die hier gaan is God se verbondstrou. Vers 20 sê – ‘U sal aan Jakob trou bewys, aan Abraham die troue liefde wat U aan ons voorouers met ‘n eed beloof het in die voortyd.’ God het Homself aan hulle en hulle nageslag verbind. God is trou aan sy verbondsvolk. Hy staan met hulle in ‘n hegte vriendskap. Die lewe van God se kinders getuig meestal nie van hulle eie krag, slimheid en wysheid nie. Hulle lewens vertel die verhaal van God se betroubare woorde, God se goedertierenheid en sy betrokkenheid in hulle lewens. Hieroor gaan die lofsang van Miga.
God se genade is vernuwende
In vers 19 staan daar – ‘wat ons weer genadig sal wees’. Hiermee mag ons 2024 ingaan. In God se vergewing vind ons rus. In God se trou kry jy moed vir die wat kom. Vanuit die genade van die Here gaan jy elke dag in. Mag jy dit doen met die lied van Miga. Gefokus op die liefde en trou van die Here.