Skip to content
Menu

Genesis 3:1-8
Romeine 5:12-21
HK Sondag 3

‘Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.’

SONDE EN SEËN

Wat is die mens? In Sondag 3 word daar vir ons ‘n paar gedagtes gestel, wat vir ons ‘n Bybelse beeld van ‘n mens gee. Die mens is geskape deur God. Ons lees van die goedheid van die mens. Sy volmaakte bestemming. Maar die goedheid het plek gemaak vir slegtheid. Daar is ‘n algehele ontsporing. Die mens is skielik verlore deur die sonde. Maar dan gaan dit verder. Daar is redding deur Jesus Christus. Dit as daar deur die Here geloof in iemand se hart gewerk word. As daar geantwoord word op die Here se roepstem. Dan werk die Here deur sy Heilige Gees. Daar is vernuwing, verandering in karakter en gedrag. Wat is die mens? So eenvoudig is die antwoord nie. Die mens is ‘n lewende wese met baie kante. As kinders van die Here ervaar ons dit. Ons lewens is vol sonde en seën.

Dit is my lewe

Die Here maak in sy Woord duidelik wat die probleem met die mens is. Die mens is ‘n sondaar. Mense doen bewus en onbewus die verkeerde, en skiet tekort in die goeie. Alle ellende begin daar. Die Skrif stel dit as ‘n feit. Dit is die realiteit. Alle probleme kom hieruit voort, omdat die mens ‘n sondaar is.

Dit is my natuur

Die sonde sit in my natuur. Dit is die slotsom van die Kategismus. As jy die wortels van die kwaad ondersoek, dan eindig jy by jou eie slegte aard. Vanaf my geboorte is ek onrein (Job). In ongeregtigheid is ek gebore, in sonde ontvang (Dawid). Die neiging tot sonde is ‘n wet in my lewe, soos swaartekrag (Paulus). Om God se Koninkryk binne te gaan, moet ‘n mens weergebore word (Jesus Christus).

Dit is my geloof

Glo jy dat jy ‘n sondaar is? Dat jy vanaf die val van die een mens gevange sit in ‘n spiraal van skuld en dood? As jy dit glo, hoor dan ook vervolgens – dat jy in Christus verlos is, en nou deur genade leef. Adam se ongehoorsaamheid het groot gevolge gehad, maar Christus se gehoorsaamheid is kragtiger as dit. Hoe dieper ons die realiteit van die sonde raaksien, soveel vaster word ons sekerheid in Jesus Christus.