Psalm 90
Matteus 4:1-11
‘Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons ‘n hart vol wysheid kan verwerf.’
KINDERS VIR DIE OORKANT
‘Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!’ Die woorde hoor ons in die gebed van Moses. Hy sing hierdie lied aan die einde van sy lewe. Na jare se beproewing in die woestyn. Sy bede aan die einde van sy lewe is dit – Here leer ons om ons dae te tel. Mag ons harte vol wysheid word. Moses het die laaste jare van sy lewe die volk in die woestyn voorgegaan. Hy het hulle onderrig. Hy het geweet die lewe op die aarde staan in die lig van die ewigheid. Hiervan getuig Psalm 90. Vir die kinders van die Here is die lewe hier op die aarde, die begin van ‘n lewe wat nooit ophou nie. Daarom staan ons stil hierby. Ons kinders moet dit geleer word. Hulle is nie maar net mense wat ‘n tydjie leef nie, hulle is verbondskinders. Dit wat hier gebeur, staan in die lig van die ewigheid. Dit wat ouers hier doen, het effek op die ewigheid.
‘n Volk met ‘n bestemming
Die lewe hier, in vergelyking met die ewigheid, is soos ‘n woestynlewe. Die lewe hier word geken deur beproewing. Die ewigheid deur volmaaktheid. Dit stel Moses duidelik in die Psalm. Die dae van ons lewensjare – die beste daarvan is vol moeite en rampe. Gou gaan dit verby, en ons vlieg weg. Maar dit is nie ons bestemming nie. Ons as verbondsvolk word deur die Here gered, om ewig te leef. Hierin mag ons ons kinders onderrig. Ons is ‘n volk met ‘n bestemming.
Saam oppad in die woestyn
‘Versadig ons in die oggend met u troue liefde, sodat ons al die dae van ons lewe kan juig en bly wees.’ (vers 14) Die Here lei jou op jou lewenspad. Hierin gaan ons Here Jesus ons ook voor. Hy toon vir ons hoe om hier deur die geloof te leef. Dit maak Hy aan ons bekend in die tyd wat Hy self in die woestyn was. In sy antwoorde vir die Satan hoor jy dit, ontvang jy kragtige leiding hier – ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.’ (vers 4) ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ (vers 7) ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ (vers 10)
Nog een rivier
‘Keer terug, HERE! Hoe lank nog? Ontferm U oor u diensknegte.’ Die Israeliete het verlang om die beloofde land in te gaan. Om die laaste rivier deur te trek. Moses sal uiteindelik nie hierin deel nie. Die beloofde land Israel gaan hy nie in nie. Hy sterf kort hiervoor. Die ewigheid gaan hy wel in. Hier leef ons in die woestyn. Die dood is die skeidslyn tussen hier en die ewigheid. Vir elkeen staan dit vas. Jou dae is getel. Kom ons Here Jesus nie voor die tyd terug nie, moet elkeen van ons hierdie laaste rivier, die een of ander tyd, deur. Maar dit met die wete dat Christus vir ons aan die anderkant plek voorberei het. Daar is ons ewige tuiste. Ons is kinders vir die oorkant.