Skip to content
Menu

Genesis 3:8-24
Psalm 130
HK Sondag 4

‘As U sondeskuld toereken, Here – my Heer, wie kan dan staande bly?’

GOD HANDHAAF SY REG

Dit is nie my skuld nie. Dit kan nou so wees dat daar sonde en ellende op die aarde is. Maar kan dit aan my persoonlik toegereken word? Dit is darem nie eerlik. Dit is die houding van die sondige mens as hy oor die sonde aangespreek word. Daarom word daar in Sondag 4 op drie vrae antwoord gegee. Met hierdie drie vrae probeer die mens sy verantwoordelikheid te ontvlug. Die eerste vraag is: Is God nie onregverdig nie? Hoe kan Hy nou verwag die mens moet volgens sy wet leef. Dit is nie vir hom moontlik nie. Die tweede. Moet God die sonde straf? Hy is tog Almagtig. Kan Hy dit nie net wegvat nie? Derdens – Is God dan nie barmhartig nie? ‘n Liefdevolle God sal tog nie straf nie. Duidelik probeer die mens om dit te omseil. In Psalm 130 hoor ons dat dit nie moontlik is nie. ‘As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?’ Die Here vergeet nie.  Hy onthou. En Hy is trou aan sy Woord.

God is regverdig

Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan. Die mens roep vanuit sy nood. Tussen ons en die Here het daar deur die sonde ’n groot kloof gekom. Dit is vir ons as mense onmoontlik om die kloof te oorbrug. Ons sit vas. Ons verkeer in nood en ellende. Dit is nie God se skuld nie. Dit is ons skuld. Deur die sonde is ons onregverdig.

God straf die sonde

God handhaaf sy reg. Die sonde moet gestraf word. Hy weet dat sy kinders nie die prys daarvoor kan betaal nie. Daarom laat Hy nie sy kinders ongehoord tot niet gaan nie. Hy luister na hulle hulpgeroep, en Hy oorbrug die kloof. Dit deur sy Seun Jesus Christus. Deur Hom is daar uitkoms uit die nood.       

God is barmhartig

Hierin sien ons dat die Here ook barmhartig is. Gered deur Jesus Christus leef ons nog steeds in ’n wêreld wat gebuk gaan onder die sonde. Hier leef ons vanuit die genade. Gevul met die Heilige Gees en bewus van die dade van Jesus Christus, word die lewe van ’n christen anders ingekleur. Want nou maak die lewe weer sin. Al leef ons nog in ’n onregverdige wêreld, wag ons as regverdiges geduldig op die terugkoms van ons Koning Jesus Christus.