Deuteronomium 11
2 Johannes 1:1-6
‘En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel.’
Wandel saam met God
Hierdie brief van Johannes is die kortste boek in die Bybel. In hierdie kort brief, leer ons iets baie waardevol van die Here. Die Here leer ons hierin dat ons saam met Hom moet wandel. Dit is nogal ’n vreemde gedagte: Om saam met die Here te wandel. Hoe moet ek dit nou vir myself voorstel? Wat beteken dit om saam met die Here te wandel? Hoe doen ek dit? Die woord wandel beteken om rustig te stap. Sonder haas en gejaagdheid. Wandel is rustig. Jy wandel om die blok om tot rus te kom. In die Bybel hoor ons dat mense saam met God wandel. Henog het aan die begin saam met God gewandel (Gen. 5:22). Noag wie genade gevind in die oë van God het, hy het saam met God gewandel (Gen. 6:9). Aan die begin was daar enkele mense wat saam met God gewandel het. Dit is hulle wat saam met God geleef het. Wat sy wil uitvoer deur sy gebooie te onderhou. Hulle wat besef wie die Here is. Hierdie saak is vandag nog net so aktueel. Die vraag waarvoor dit ons plaas: Wandel ek saam met die Here? Wandel ons as gemeente saam met die Here? Johannes gee vir ons in sy brief handvatsels hieromtrent.
In waarheid
Johannes begin sy brief deur te skryf aan die uitverkore vrou en aan haar kinders. Dit staan in vers 1. Hierdie vrou is nie ’n sekere persoon nie. Dit is nie Maria die moeder van Jesus, of Martha of Lydia nie, of een van die ander vroue uit die Bybel nie. Nee hierdie uitverkore vrou met haar kinders is die kerk. Johannes roep die gemeente, die uitverkore vrou, op om in die waarheid te leef. Om saam met God te wandel beteken om in waarheid te leef. Jesus Christus noem Homself dié waarheid. Hy het die pad na die Here toe vir ons voorberei. Ons volg Hom op die pad. Om op die pad te bly moet ons leef in die waarheid. Dit is waarvan Johannes praat. Die Here gee vir ons gebooie om die waarheid aan te toon.
In liefde
In sy brief verkondig Johannes kort en kragtig die volmaakte harmonie tussen die suiwere christelike leer en die ware christelike lewe. Hy stel die waarheid vas, en hy toon ook aan hoe dit uitgeleef moet word – in liefde. Liefde is die beginsel vir ’n lewe saam met God. Dit help nie jy doen die regte ding, maar jy doen dit sonder liefde nie. Vir ons as kerk beteken dit dat ons suiwer in leer (waarheid) moet wees, maar ook suiwer in lewe (liefde). Die waarheid leef ons in liefde uit.