Skip to content
Menu

Handelinge 15:1-35

‘Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem… Die Heilige Gees en ons het daarom besluit…’

DIE EERSTE SINODE – EENHEID IN WAARHEID

Die ontstaan van die jong christengemeentes het ’n stormagtige verloop. Binne ’n kort tyd was daar duisende gelowiges in Jerusalem. Vinnig daarna word die eerste heidene gedoop. Word die volgers baie in die Griekse wêreld. Die uitstorting van die Heilige Gees word gevolg deur ’n reeks ontwikkelinge. Hierdie vinnige ontwikkeling en groei van die gemeentes, het veroorsaak dat daar konflikte ontstaan het. Die groot toename van onbesnede christene, buite Israel, lei tot verskillende reaksies van die apostels. Die sendelinge word vanuit Jerusalem beskuldig. Hulle word gesien as nalatig. Hulle bring die nuwe christene dan net halfpad. Die aanvaarding van die Messias van Israel, sou tog moet lei na die inlywing in die volk van God. Hierdie mense moet nog besny word. Hoekom doen die sendelinge dit dan nie? Na Paulus en Bárnabas se sendingsreis na Ciprus, beland hulle in Antiochië in die middel van hierdie stryd. Hulle word opgeroep om hulle te verantwoord. Hulle moet verduidelik – Hoekom hulle doen wat hulle doen. Die kerkraad wil weet – Hoe hou hulle optrede verband met die openbaring van God aan sy volk Israel? Hoekom besny hulle nie die heidenchristene nie? Dit gee aanleiding tot die eerste sinode. Die eerste groot kerkraadsvergadering van die jong kerke. Hierin staan die eenheid in Christus sentraal. Maar daar kan net eenheid wees, as die waarheid in Christus omhels word. Hier word die basis gelê vir ons manier van kerk wees vandag.

Die vraagstuk

Die vraagstuk ontstaan in Antiochië. Daar het Judese manne in die gemeente verkondig dat die nuutbekeerde christene besny moet word. Al is hulle nie Jode nie, is dit die teken van God. Hieroor ontstaan onenigheid. Paulus en Barnabas het dan verkondig dat dit nie nodig is nie.

Die bespreking

Die saak word bespreek in Jerusalem. Paulus en Barnabas verantwoord hulle daar voor die gemeente. Die saak word vanuit die Woord van die Here bespreek. Saam soek die broeders na die waarheid. Petrus en Jakobus is hierin bepalend. Hulle toon die lyn vanuit die Ou Testament aan tot by Christus. Christus het die seremoniële wette vervul.

Die besluit

Nadat die saak deeglik bespreek is kry die sinode eenstemmigheid. Die waarheid in Christus word omhels. Die besluit word aan die gemeentes kenbaar gemaak. Die christene wat hulle uit die heidendom bekeer het hoef nie besny te word nie. Hulle moet wel ’n vroom lewe leef soos wat God in sy Woord voorskryf.