Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: 1 Korintiërs 12 (Fokusvers 13)    Sing: Psalm 48:1,4,5; Psalm 102: 5,7,8; Psalm 133:1,2; Psalm 68:3,8,12,13.

God het ons, verskeie lede, in een liggaam saamgevoeg, leef daarom afhanklik van ander lede!

Dit kan so maklik gebeur dat mense vandag maar net kerk toe gaan vir hulle eie individuele behoeftes. In die gemeente van Korinthe het baie gelowiges se selfgesentreerdheid tot verdeeldheid aanleiding gegee.

Die samevoeging tot een liggaam

Paulus spreek hierdie verdeeldheid aan deur te wys dat die verskeidenheid in die gemeente in een liggaam saamgevoeg is. Ons is saamgevoeg in die liggaam van Christus. Ons het deel aan Hom. Sy dood en sy opstanding het ons s’n geword. Hy het dit aan ons toebedeel deur die doop met die Heilige Gees. Sy lewewekkende krag werk in elke gelowige. Daar is nie sprake daarvan dat elke gelowige sy eie Gees het nie. Dit is een Gees wat in al die gelowiges werk. Daarom kan ons ook nie sê dat ons in afsondering van mekaar gemeenskap met die Here kan beoefen nie. Ons is binne een liggaam geroep. Dit is in dieselfde liggaam waar ons taak lê.

Die verskeidenheid in een liggaam

Tog gaan die verskeidenheid nie op in die eenheid nie. Daar is in hierdie liggaam ook mooi verskeidenheid. Elke gelowige het as ledemaat ’n eie plek in die liggaam. Die Vader het gewil dat sy gemeenskap met sy kinders in verskeidenheid funksioneer. Elke lid is uniek en moet sy taak en roeping in die liggaam volstaan. Daar is dus nie ’n verskoning dat een se plek minderwaardig is en hy daarom nie deel is van die liggaam nie. Inteendeel, Paulus stel dat die lede wat na minder lyk baie keer met oorvloediger eer beklee word. Die wyse waarop die Gees ons saamgevoeg het is so besonders dat ons verskeidenheid die eenheid van die liggaam bevorder en versterk.

Die afhanklikheid binne een liggaam

Die Skrif stel ook dat ons met een Gees deurdrenk is. Die wyse waarop ons saamgevoeg is, is intiem. Dit beteken met ander woorde dat die gemeenskap wat elkeen van ons met God het, so naby, so intiem is, dat ons mekaar noodwendig daarin vind. Die Gees tas ons diepste wese aan. En Hy doen dit in en met ons elkeen. Daarom is die lede ook van mekaar afhankik. Ons het mekaar ook nodig. Dit is dus uiters verwaand om te sê jy is ’n lid wat nie die ander lede nodig het nie. Ons Skrifgedeelte leer juis dat dit nie is hoe die liggaam van Christus werk nie. So ’n houding sal nie kan dien tot groei en opbou van die liggaam nie. Die Gees wat ons deurdrenk stel ons in wedersydse afhanklikheid van mekaar. Wees daarom getrou aan jou roeping in die liggaam.