Skip to content
Menu

Esegiël 2:1-3:15

‘Toe sê Hy vir my: “Mensekind, jou maag moet jy voed, en jou ingewande moet jy vul met hierdie boekrol wat Ek vir jou gee.” Ek het dit geëet, en dit was so soet soos heuning in my mond.’

GEROEP DEUR DIE HERE AS PROFETE IN SY DIENS

Esegiël moet ‘n boek opeet. ‘n Vreemde gedagte. Tog ken ons iets daarvan in Afrikaans. Iemand wat baie boeke lees, verslind ‘n boek. Ons noem so iemand ‘n boekwurm. Hy eet en drink die woorde in. Die boekrol wat Esegiël kry, moet hy nie net lees nie, hy moet dit selfs opeet. Die inhoud daarvan moet hy inneem, dit word deel van sy ingewande, sy bloedsomloop. Dit wat daarin staan word sy eie. Sy eie verhaal, sy eie ervaring. Hy is deel van die verbondsvolk. Deel van dit wat gebeur. Hoekom? Die Here plaas sy profeet binne die situasie, Hy berei hom voor vir die werk wat hy moet doen. Deur die Woord ontvang hy toerusting. Bewus wat die toestand in Israel is, sal hy met oortuiging tot die harte van die mense kan praat. Dit is nie ‘n maklike taak nie. Israel is ‘n ongehoorsame en ‘n rebelse volk. Dit is ‘n swaar taak om as profeet van die HERE in ‘n gebroke wêreld geroep te word.

Geroep as kind van God

“Mensekind, staan regop, dan sal Ek met jou praat…’ Die stem wat Esegiël hoor noem hom nie by sy naam nie, maar noem hom mensekind. Hierdie term kom baiekeer in Esegiël voor. Hiermee toon die Here Esegiël en elke mens se plek aan. Esegiël as mens is klein teenoor die grootheid van God se heerlikheid. Hy word geroep vir ‘n spesifieke taak. Die Here het ‘n troue kneg nodig om ‘n boodskap vir die Israeliete te bring. Vandag is elke kind van die Here, in die amp van die gelowige, geroep as profeet. Ons roeping hou in dat ons in hierdie wêreld getuig van Christus.

Toegerus deur sy Woord

In die visioen sien Esegiël die volgende – ‘Ek sien toe, kyk, daar is ‘n hand uitgestrek na my – met ‘n boekrol!’. Toe die boekrol oopgaan val daar twee dinge op. Die boekrol is vol geskryf. Ook is die boek vol klaagliedere. ‘Op die voor- en agterkant daarvan was daar geskryf; treurliedere, versugtinge en weeklagte was daarop neergeskryf.’ (vers 10) Hierdie boekrol moet hy opeet. Wat daarin staan moet hy aan die Israeliete deurgee. So gebeur dit. Esegiël maak gewillig sy mond oop. Die Here laat hom die boekrol opeet. Hy beveel hom dat hy hom heeltemal daarmee moet vul. Dan sê die profeet dat dit vir hom so soet soos heuning proe. ‘n Bewys dat hy God se Woord gehoorsaam aanneem.

Gestuur om in die wêreld te getuig

Esegiël het ‘n moeilike taak wat voorlê. Die volk sal hard wees, hy moet met hardheid antwoord. Trou aan die Here, trou aan sy Woord moet hy voortgaan. Met profetiese gesag moet hy die ballinge aanspreek. Wat hulle daarmee doen, is hulle eie verantwoordelikheid.