Skip to content
Menu

Jesaja 52:13-53:12  
HK Sondag 15

‘Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op Hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.’

Die lyding van Jesus Christus bepaal alles

God die Vader het sy Seun Jesus Christus na hierdie aarde toe gestuur. Die rede daarvoor is dat Hy ons sal verlos. Verlossing is daar slegs deur Jesus Christus. Jare voor sy koms, het Jesaja dit al geprofeteer. En hy het heelwat vertel oor wat Jesus hier op die aarde kom doen. Dat Hy verneder sal word, voordat Hy verhoog word. In ons belydenis word dit uitvoerig bely. Christus is verneder tot in die hel, sodat ons saam met Hom verhoog kan word, tot in die wonings van die Hemelse Vader. Die Verlossingswerk van Christus bely ons elke Sondag in die kerk. Jesus Christus – wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het, en begrawe is en neergedaal het na die hel. Die stappe van vernedering. Wat dan gevolg word deur die stappe van verhoging. Op die derde dag opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God die almagtige Vader. Verneder tot in die hel, verhoog tot die regterhand van God die Vader.

Dit bepaal ons wêreldbeeld

Op die wêreld is daar ontsaglik baie lyding. Niemand kan die lyding van die wêreld omvat nie. Dit is eenvoudig net te veel. Dit was van oorsprong nie so nie. In die paradys was daar nie lyding nie. Deur die sonde het dit gekom. Dit is ’n natuurlik gevolg daarvan. Vandag word ons wêreldbeeld deur sonde bepaal.

Dit bepaal ons Godsbeeld

Uit liefde het God sy Seun na hierdie wêreld gestuur om dit te verlos. Daarvoor moet Hy God se toorn dra. Daarom bely ons – gely het onder Pontius Pilatus. Jesus Christus het sy hele lewe hier op die aarde gely. Sy liggaam en siel het altyddeur onder die sonde gely. Hy as Heilige God moes deurlopend die lug van die sonde op die aarde inasem. Uiteindelik het die wêreld Hom gekruisig.

Dit bepaal ons selfbeeld

Jesus Christus het ons gered. Op hierdie aarde sal daar lyding wees. Nie een van ons sal dit ontkom nie. Maar ons weet daar is hoop en troos. Daarom vorm ons ons selfbeeld nie na die wêreld nie, maar na God. Ons is navolgers van ons Here Jesus Christus. Ons identiteit vind ons in Hom. Deur sy werke en die krag van die Heilige Gees leef daar ’n nuwe mens in my.