Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word

Skriflesing: Esegiël 3:22-4:17        Teks: Esegiël 3:26        Sing: Ps. 89:1,2,6; Sb. 12-3:1,2; Ps. 1:1,4; Ps. 90:1,9; Sb. 14-2; Ps. 91:1,8.

‘Jou tong sal Ek aan jou verhemelte laat kleef. Jy sal stom wees, en nie meer iemand wat hulle teregwys nie, want hulle is ‘n rebelse huis.’

AS MENSE NIE MEER WIL LUISTER NIE

Wat maak jy as mense rondom jou nie meer na die Woord wil luister nie? Esegiël is geroep as profeet. Hy ontvang ‘n moeilike opdrag. Oor ‘n paar jaar sal dit klaar wees met Jerusalem. Dit stad sal in puin lê. Daar kom oorlog. Die maat is vol. Maar die ballinge is nie eintlik baie bekommerd nie. God sal sy stad tog sekerlik spaar? God het dan aan Abraham gedink toe hy alleen was, Hy sal nou tog ook al hierdie kinders van Abraham red? Die Here sal nie toelaat dat dit verwoes word nie. Jerusalem die stad van God! Esegiël se boodskap val op dowe ore. Hy het met sy preke gewaarsku. God se oordeel is oppad. Hy is die wagter wat op die muur staan, wat op die ramshoring blaas om die mense wakker te skud. Maar die mense wil nie hoor nie. ‘n Probleem in die tyd, en ook ‘n probleem in ons tyd. God se boodskap staan in die Bybel. God se Woord word verkondig. Maar so gereeld luister mense nie. So baie mense se harte is hard en koud, baie word nie geraak deur die boodskap van die Gees nie. Hoe kan jy hierdie mense bereik?

‘n Profeet sonder woorde

Esegiël word deur die Here stilgemaak. Die mense luister tog nie. Hy moet homself toesluit in sy huis. Hy word met toue vasgebind en kan nie meer praat nie. Maar as die profeet nie meer mag praat nie, gee die Here vir hom ‘n ander opdrag. God laat hom ‘n toneelspel opvoer. Die profete moes dit meer gereeld doen. As die volk nie wil luister nie, dan gebruik God ander manier. Aanstootlike dinge gebruik hy om die mense wakker te laat skrik. Hy laat selfs sy dienaar ly. Hy verneder hom sodat die mense deur die Woord bereik kan word.

God se heilige toorn en gekwetste liefde

Wat doen jy as iemand nie wil luister nie? Duidelik uit die gedeelte werk God nie net in liefde en geduld nie. Soms is dit nodig om eerlik die waarheid te vertel. In die opsig kry Esegiël ‘n tweede opdrag. 390 dae moet hy op sy linkersy en daarna 40 dae op sy regtersy lê. Ook mag hy slegs ‘n roosterkoek maak van gemengde dinge. Ingrediënte wat arm mense en selfs diere eet. Daarvan slegs 230 gram per dag. Dit is nie genoeg om van te leef nie, en dit is te veel om van te sterf. Ook mag hy net 600 ml water per dag dring. Daarmee kan ‘n man van 30 in die midde ooste net-net van oorleef. Die heilige toorn van die Here maak Esegiël aan die volk bekend.

In die lig van Jesus Christus

Esegiël het die opdrag gekry om te swyg. En hy swyg. Jare later het die mense Jesus gesien loop in Jerusalem. Soos ‘n lam wat stom is voor die aangesig van sy skeerder. So het Hy die lydingspad gestap. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Toe Jesus gevange geneem is, het die hoëpriester gevra: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie.