Skip to content
Menu

Efesiërs 1:3-23
HK Sondag 21

‘Daarom — vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges — hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie…’

Kerk: ’n Liefdevolle gemeenskap met Christus in die middel

Wat is kerk? ’n Vraag waaroor ’n mens nogal lank kan nadink. Want wat is kerk nou eintlik? Wat identifiseer ons as kerk? Hoekom is daar soveel verskillende kerke in die stad? Hierdie aspek word aangespreek in Sondag 21. En in hierdie Sondag word die kern van kerk aangespreek. Die vraag kan nog meer gespits word: Wat is die hart van die kerk? Die fokus lê gereeld nie by die kern nie. Dit lyk gereeld of diskussies oor liturgie, die gawes van die Gees, die eerbied en die stilte in ’n erediens, die predikant, die trou aan die belydenis, gemeente aktiwiteite, die verskille tussen kerke, gesprekke oor die kerkverband, die hart van die kerk is. Dit is die nie. Kerkwees is gemeenskap met Christus.

Die Gees van Christus (v&a 54)

Christus regeer sy kerk deur sy Gees en Woord. Hy vergader, beskerm en onderhou sy kerk. Voor die grondlegging van die wêreld het Hy met hierdie werk begin. Deur die uitverkiesing het Hy vir Hom ’n kerk gekies. Mense wat bymekaarkom omdat hulle geloof in Jesus Christus deel. Deur sy Gees en Woord bring Hy ons bymekaar. Die Gees en Woord moet leef in ons midde.

Die gawes van Christus (v&a 55)

Gemeenskap met Christus beteken dat ons deel in sy gawes. Deur die geloof in Jesus Christus het ons aan al sy skatte en gawes deel. Om die rede het ons ook ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Die Here gee ons gawes sodat ons hierdie gawes kan gebruik en uitdeel. ’n Kerk begin, daar waar geestelike gawes gebruik word. Daar waar gemeenskap van gelowiges beoefen word, waar mense groei in geloof.

Die genade van Christus (v&a 56)

Wat het ons almal in gemeen as gelowiges in die kerk? Ons deel in die genade van Christus. Sy offer was vir die kerk gewees. Vir al die uitverkorenes wat deur Hom uitgekies is. Daarin vind ons mekaar. Ons almal is gelyk aan mekaar, want ons is almal sondaars wat vergewe is en vergewe sondaars is heilig. Met sy kosbare bloed betaal Jesus vir jou, Hy sonder jou af vir God.