Skip to content
Menu

Sidder voor God se onophoudelike liefde!

 God bewys sy liefde onophoudelik aan ’n ontroue volk. Dit word in die boek van Hosea aan ons geopenbaar. In die eerste hoofstuk van die boek word Hosea, die profeet van die Here, beveel om met ’n prostituut met die naam Gomer te trou. Hy moet op hierdie manier baie konkreet vir die volk in die Noordryk verkondig hoe hulle verbondsverhouding met die Here staan. Hulle is as volk soos ’n losbandige prostituut. Hulle dien deurgaans afgode, eerder as die Here, hulle Bruidegom. Tog bewys die Here aan hulle onophoudelik liefde. Hy kasty en tugtig die volk maar bevestig keer op keer die belofte van uiteindelike herstel.

God se volgehoue liefde

Hierdie gedeelte begin met die feit dat Gomer van Hosea af weggeloop het. Sy was, ten spyte van die aanvanklike liefde wat Hosea aan haar bewys het steeds ontrou. Wat meer is, die feit dat Hosea haar moet terugkoop dui aan dat sy selfs ’n slavin geword het. Sy het dus haar huwelik met Hosea verruil om ’n hoererende slavin te word. Nou kom God se opdrag: Hosea moet haar opsoek en terugvat. Ook hierdie daad wys iets van God se liefde teenoor Israel. Hy soek hulle op, selfs  al word hulle slawe van die afgode. Hulle spits selfs hulle liefde toe op rosynekoeke, eerder as op hulle God. God se liefde bly egter groter. Hy soek hulle keer op keer op. So doen Hy baie keer met ons ook. Ons antwoord op God se liefde is nie altyd liefde nie. Tog droog sy liefde nie op nie.

God se kastydende liefde

Die Here se liefde word egter nog verder in Hosea se optrede duidelik. Nadat Hosea vir Gomer teruggekoop het, bring hy haar in afsondering. Gomer moet nou vir ’n lang tyd bly soos sy is. Daar mag geen man met haar gemeenskap hê. Sy moet bly, soos wat sy is. Selfs haar bruidegom sal nie met haar gemeenskap hê nie. Wettige en onwettige gemeenskap word haar ontsê om haar te kasty. Sy moet in afsondering van haar slawerny aan die sonde genees. So sal dit immers vir Israel ook wees. Hulle sal vir lank maar bly soos hulle is. Wettige en onwettige gemeenskap sal hulle ontsê word in die Here se liefdestug. Hulle sal sonder koning, maar ook sonder huisgode wees. So sal die Here hulle in liefde isoleer en tugtig.

God se herskeppende liefde

Uiteindelik sal sy genade egter oor Israel laat geld. Hy sal deur sy Gees daadwerklike bekering in hulle harte werk. Hy sal hulle, wat van die Dawidshuis afgeskeur het, weer onder die koningskap van ’n nakomeling van Dawid bring. Die ontsag en verwondering wat hierdie groot liefdesdaad van God bring sal hulle laat sidder. Hierdie belofte is in Christus, die Seun van Dawid vervul. Toe die volk inderdaad in duisternis gesit het, sonder koning, het die Christus se wegbereider na die aarde gekom. Hy het gewys na Hom wat die volgehoue liefde van God teenoor sy volk bevestig het. Want watter liefde is tog groter as die liefde wat die eniggebore God aan die kruis bewys het? Watter groter bevestiging van God se volgehou liefde kan daar tog wees? Dit is liefde en genade. Dit is goedheid wat verwondering wek.