Lukas 16:19-31
HK Sondag 22
Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’
ONS TOEKOMS IN JESUS CHRISTUS
Die dood is ’n harde realiteit vir elke mens op die aarde. Tensy Christus terugkom moet alle mense doodgaan. Elke mens word hierdeur gekonfronteer. Gelowiges en ongelowiges. Almal staan voor die feit van die dood. Dit gebeur. Die dood bly misterieus. Die dood kom haal mense. Sonder rede. Nooit kom daar iemand wat dood is weer terug nie. Dood is finaal. As iemand gesterf het is hy of sy weg. So praat baie mense. Die dood – Niemand kan dit systap nie. In alle volke, kulture en rasse is dit so. Die mens het vrae hieroor. Hoekom is daar dood? Wat gebeur met hulle wat doodgegaan het? Vir al hierdie vra is daar net een plek waar antwoord gekry word. Dit is in die Woord van die Here. In die evangelie wat Hy vir ons gee. En daarin word baie duidelik gestel, dat as iemand sterf, is hy of sy nie weg nie. Ons weet baie goed waar ons geliefdes is. Hierby staan ons stil vanaand. Ons kyk wat die Here aan ons bekendmaak, na ons dood hier op die aarde.
Die opstaan van ons liggame
Wat gebeur na hierdie lewe? Die meeste gelowe het ’n antwoord hiervoor. Party glo dat jou siel aan beweeg na ’n volgende skepsel. Party glo dood is dood. Dit is die einde. Net soos wat daar niks voor jou geboorte was nie, sal daar niks na jou dood wees nie. Al hierdie idees is uit niks gebore. Alles menslike versinsels. Die Here sê vir ons wat gebeur. Eendag mag ons leef saam met God, daar waar ons siele met ons liggame herenig word. Nie as engele nie, maar as mense.
Die lewe tot in ewigheid
Ewigheid is vir ons ’n vreemde begrip. Vir ons mense het alles ’n begin en ’n einde. Dit is nie hoe God werk nie. Hy het nie ’n begin nie, Hy het ook nie ’n einde nie. Van ewigheid tot ewigheid is Hy daar. Saam met Hom mag ons leef vir altyd. Dit begin nou reeds. Nou mag ons al vanuit die geloof Hom prys. Eendag mag ons dit in volmaaktheid doen.