Skip to content
Menu

Esegiël 11:14-25
Hebreërs 10:19-25

‘En Ek sal hulle een hart gee, en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.’

IN DIE TEENWOORDIGHEID VAN DIE HERE

at is die hart van Christenwees? Vanoggend was ons getuies van die doop van klein Andreas. Met dankbaarheid mog ons kyk, hoe sy ouers hom hier vorentoe bring om te doop. ‘n Pragtige verbondskindjie. Groot genade om in ‘n gesin met gelowige ouers gebore te word. Met die geboorte van ‘n kind, word daar altyd gekyk of alles reg is. Tien tone en tien vingers. Vandag kan die dokters met hulle masjiene kyk of alles aan die binnekant ook in orde is. Of die longe en die ander organe werk. En van baie kleins af kan die hartkloppie al gehoor word. Baie belangrik. Die hart is die sentrum van die liggaam. Dit stuur lewegewende bloed na al die ander dele van die liggaam. Sonder ‘n hart kan jy nie leef nie. Nou hoor ons in die Bybel dat ons ‘n geestelike hartprobleem het. As daar nie iets hieraan gedoen word nie, sal ons nie kan leef nie. Mense mag dalk gesond en reg aan die buitekant lyk, maar aan die binnekant veroorsaak die sonde dood. As jy nie ‘n nuwe hart kry nie, is daar nie hoop nie. Die Bybel praat oor die hart as dit wie jy is. Dit is die kern van jou denke, jou gevoel, jou wil. Die kern van jou geestelike lewe. Jou hart bepaal wie jy is. Die toestand van jou hart bepaal jou verhouding met God. Dit was die probleem met die Israeliete in die tyd van Esegiël. Hulle was dubbelhartig. Hulle het die rug op die Here gedraai. Hulle harte het hard geword. Nou roep die Here hulle terug. Die Here deursoek harte. Harde harte kan Hy sag maak. So staan ons ook vanoggend in sy teenwoordigheid.

Die Here maak ons bymekaar deur die geloof

Esegiël mag profeteer dat die Here nie ophou met sy werk nie. Al word die Israeliete ballinge en word hulle regoor die wêreld verstrooi, mag hulle in vers 17 hoor – ‘Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is.’ Hebreërs 10:22 sluit hierby aan – ‘Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.’ Die Here gee vir ons een hart.    

Hy gee vir ons ‘n belydenis van hoop

Esegiël sê vir die volk dat die Here weer vir hulle ‘n hart van vlees sal gee. Vervolgens gee hy ook ‘n opdrag daarmee saam – ‘sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen.’ Dit is om te lewe met die belydenis van hoop. In verhouding met die Here leef jy volgens sy wil. Hiermee kan ons mekaar bemoedig met die woorde in Hebreërs 10:23 – ‘Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou.’

Deur sy Gees lei Hy sy gemeente in liefde

In Esegiël hoor ons weer die verbond – ‘en hulle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.’ Met harte wat leef, leef ons as kinders van die Here vir die Here. Met herstelde skoongewaste harte is ons in staat om lief te hê. Om te doen wat goed is – ‘Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade…’ (Hebreërs 10:24)