Skip to content
Menu

Esegiël 17

‘Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal lote maak en vrug dra. Dit sal ‘n luisterryke seder word, en al die voëls, al die gevleueldes, sal onder hom tuis wees. In die skadu van sy blare sal hulle ‘n tuiste vind.’

IN DIE SKADUWEE VAN DIE ALMAGTIGE

Die koninkryk van God is soos ‘n mosterdsaadjie wat gesaai word. Uit ‘n klein saadjie groei daar ‘n groot boom. In sy skaduwee kan die voëls van die wêreld skuil. ‘n Bekende teks. Waaroor al baie gepreek is. ‘n Stuk uit die Bybel wat jou aan die dink sit oor God se Koninkryk en ook oor jou plek in sy Koninkryk. In die opsig het ‘n predikant gevra: Sukkel ons nie almal soms met die druppel-op-die-warm-plaat sindroom nie? Hoe gereeld gaan dit deur jou gedagtes: Maak dit wat ek doen sin? Maak dit saak? Wat is nou my bydrae tot die groter geheel? Op jou eie kan jy vinnig klein en nietig voel. Dat dit sommer maklik is om maar net niks te doen nie. Die druppel op die warm plaat sindroom vat al jou motivering weg. Dit verhoed jou om in aksie te kom. Dit keer jou om jou rol te vervul. Miskien herken jy iets hiervan in jou lewe. Watter verskil maak jy? Ons word deur soveel dinge buite ons beheer oorweldig. In ons eie land ervaar ons dit. Ons word regeer deur mense wat die Here nie vrees nie. Die week is ons weer oorval deur drakoniese wetgewing. Dan kan dit gou gebeur dat jy so oorweldig is dat jy maar niks doen nie. Die lyn kan ons deurtrek na die Koninkryk van God toe. Die groot Koninkryk wat oor die hele wêreld strek. Die Almagtige God wat aan die werk is met soveel mense en soveel dinge wat gebeur. Watter verskil maak ek daarin? Dan leer ons Here Jesus ons om anders hierna te kyk. Hy leer ons oor klein dinge met groot effek. In Mattheus 17:20 gebruik Hy ook die beeld van die mosterdsaadjie – ‘As julle geloof het soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.’ Gemotiveer leef ons hier deur die geloof.

Twee gelykenisse oor groeikrag

In die Woord word gereeld beelde uit die natuur gebruik. ‘n Loot wat geplant word sodat daar ‘n nuwe boom kan groei. ‘n Saadjie wat gesaai word vir dieselfde rede. Met gelykenisse spreek die Here ons daaglikse lewe en arbeid aan. Leer Hy ons hoe om die evangelie van die koninkryk te verbind met die gewone lewe. So gebruik die Here die natuur om te verduidelik hoe sy Koninkryk werk. Wie weet beter hoe die natuur werk as die Skepper self.

Die hart van die gelykenis

In Israel was die verwagting van baie dat die Koninkryk van God skielik groot sou wees. Met mag en krag sou dit gevestig word. Ons Here Jesus toon aan dat dit nie so is nie. Die begin daarvan is onbeduidend, armsalig, onopvallend. ‘Ek sal self die boonste top van ‘n seder neem en dit inlê. Van die bopunt van sy lote sal Ek ‘n sagte deel afpluk, en Ek sal dit self plant op ‘n hoë en verhewe berg.’ Die Here maak duidelik hoe Hy aan die werk is.

Die lewe in die Koninkryk

In die samelewing heers die gedagte – groter is beter. In die Koninkryk gaan dit daaroor dat jy in alles wat jy doen reg optree. Veral ook in die kleine. Dit gaan oor barmhartigheid en regverdigheid, oor liefde en egtheid.