Vertrou God wat vir ons vrede en ’n hoopvolle toekoms bedink!
God Die gebeure in ons Skrifgedeelte speel af in ’n baie hartseer tyd vir die volk van Juda. Hulle het nou reeds vir eeue in sonde teenoor God volhard. Hulle het onder die leiding van slegte konings heeltyd afgode gedien. Die Here het hulle swaar geoordeel vir hulle sonde. Hy het die Babiloniërs gestuur om hulle te straf. ’n Groot deel van die volk is in 597 voor Christus saam met koning Jegonja na Babel toe weggevoer. Daar was dan in Jerusalem en in Babel valse profete wat geleer het dat die Here spoedig verlossing vir sy volk sal bring. Jeremia het egter geleer dat die terugkeer eers na sewentig jaar van ballingskap sal plaasvind. Tog kan die ballinge getroos wees. Ten spyte van alles wat hulle beleef bedink die Here vir hulle ’n toekoms vol van hoop.
God se gedagtes
Die Here begin deur te stel dat Hy weet. In ’n tyd wat die volk nie meer weet nie is dit ’n geweldige troos. Dink jou maar net in hoe donker sake vir die ballinge moes wees. Hulle is heeltemal ontwortel. Hulle het hulle huise verloor. Hulle is van hulle families geskei. Wat meer is, dit lyk nou asof die Here se pad met hulle tot op ’n einde geloop het. Hy het immers die land aan hulle belowe. Hy het belowe om hulle ’n groot nasie te maak. Hy het selfs belowe dat hulle ’n seën vir al die nasies moes wees. Waar is daardie beloftes nie. Die volk weet nie. Die valse profete dink hulle weet. Hulle dink hulle ken die Here se verborge plan vir sy volk. Daarom profeteer hulle ewe vermetel dat die Here nou verlossing gaan bring. Maar die Here maak dit duidelik, hulle weet nie, Hy weet. En wat weet Hy? Hy weet volgens ons Skrifgedeelte watter gedagtes Hy aangaande die volk koester. Hy ken die ewige plan wat Hy vir sy volk bedink het. Hy weet wat sy bedoeling is met alles wat met hulle gebeur. Hy het vir hulle deur sy wil ’n ewige plan bedink. En hierdie plan is heeltemal anders as menslike planne.
Ons vrede
Teenoor die onheil wat die ballinge in die gesig staar belowe die Here vir hulle vrede. Hierdie vrede is nie maar net die afwesigheid van stryd nie. Dit is ook nie maar net vrede wat voorspoed en gesondheid bring nie. Baie valse profete verklaar vandag ons Skrifgedeelte asof dit maar net oor sulke vrede gaan. Vrede se betekenis is volgens die Bybel baie dieper. Vrede beteken heelheid. Dit staan dus lynreg teenoor gebrokenheid. Wanneer die Here vrede gee beteken dit Hy maak heel. Hy bring herstel waar daar gebrokenheid was. Hy bring harmonie waar daar eers stryd was. Die diepste vrede wat Hy bring is egter vrede met Homself. Want daar is inderdaad tussen Hom en sy volk op hierdie tydstip alles behalwe vrede. die vrede van God het na die aarde gekom in Jesus Christus. Hy het gekom om die gebroke verhouding tussen God en sy volk heel te maak. Uiteindelik is Christus die Gedagte van God. Hy was die Here se plan om vrede in plaas van onheil vir sy volk te bewerk. Hy is die Woord wat vlees geword het.
Ons hoopvolle toekoms
Deur die vrede wat God vir ons bewerk het, het ons ’n hoopvolle toekoms. Ons verwagting van wat met ons gaan gebeur sluit aan by die vrede wat ons met God het. Ons verwagting is dus die Here se finale redding by die wederkoms van Christus en die vernuwing van die aarde. Dan sal God se vrede, wat alle verstand te bowe gaan oor die aarde heers. Vertrou dus die Here en laat jou verwagting sy vrede en hoop wees!