Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word

Lees: Jona 3,4

Teks: Jona 3:2

Sing: Ps. 122-1:1,2; Ps. 87-1:2,3,4; Sb. 18-7:1,3; Ps. 121-1:1,2,3,4.

‘Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê.’

Kerk in die stad [Ninevé]

Om die boek Jona te lees, beteken om in die spieël te kyk. Dit is nogal konfronterend om te sien hoe Jona reageer op die Here se opdragte. Die weerstand wat daar by hom is. Dit moet jou aan die dink sit. Die Here se opdragte vir ons en jou is bekend. Sy Woord is vol daarvan. As christen in die amp van die gelowige, leef jy anders. Leef jy as lewende, belydende kind van die Here. Die wêreld ingestuur as ‘n ligdraer, as ‘n soutende sout. By ons is daar ook baie keer weerstand. Ek is nie gereed nie, ek is te besig, ek het nie die vermoë en die gawes nie. Die optrede van Jona is vir ons as mense nie so vreemd nie. Daarom die vraag: Hoe leef ek my geloof uit? Binne my omgewing, by my werk, daar waar ek rondbeweeg. As individu, maar ook as kerk, as gemeenskap van gelowiges, moet dit ons weer laat dink. Hoe leef ons as kerk die evangelie uit? Hier in die stad waar die Here ons plaaslik vergader. ‘n Stad wat vol is van verslaafdes, prostitute, dakloses, armes. Gaan dit maar net by ons verby? Aan die hand van Jona en Ninevé staan ons vanaand hierby stil. By die opdrag van die Here – ‘Maak jou klaar, gaan heen…’ (Jona 1:2, 3:2)

Jona se roeping en opdrag

Jona word geroep om die evangelie vir die goddelose stad Nineve te bring. Dit was die hoofstad van die magtige Assiriese ryk. Op die oomblik gebruik die Here hulle om sy volk te straf. Jona wil dit nie doen nie. Hy vlug. Jona wil nie sy rustige lewe deur die Here deurmekaar laat word nie. In Jona se onwil sien ons iets van die oudste seun in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:25-32). Dit is die teenoorgestelde van Jesus wat sy vyande lief het, vir hulle mens word en selfs vir hulle sterf (Mattheus 12:40). Uiteindelik gaan Jona na Nineve.

Ninevé se reaksie

In Ninevé werk die Here ‘n groot wonder. Daar kom ‘n algehele inkeer. Die koning neem die leiding. Hulle vas en verootmoedig hulleself. Vervolgens trek die Here sy oordeel terug. ‘n Groot stad met ongeveer 120 000 inwoners word deur God se genade gered. In plaas van dat Jona bly is, is hy kwaad. Hy het iets anders as dit verwag.

Die krag van die evangelie

Die geskiedenis van Jona is ‘n uitnodiging om onsself ‘n aantal vrae te stel met die oog op ons houding teenoor Pretoria. In die gedeelte hoor ons die krag van die evangelie. Wat is ons ingesteldheid teenoor ons stad? Is ons harte sag deur die evangelie dat ons ander graag wil laat deel in die genade wat ons van God in Christus ontvang?