Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Lees: 2 Timoteus 2:1-13     Fokusverse:11-13     Sing: Psalm 105-1:5,6,23; Psalm 95-1:4,5; Psalm 25-1:5,7,10; Psalm 89-1:12,13,14.

Die tweede brief aan Timoteus is waarskynlik die laaste brief wat Paulus geskryf is. Paulus sit in die gevangenis. Hy wag heel waarskynlik dat sy vonnis voltrek sal word. Sy dood is op die voorstoep. In hierdie brief bemoedig hy egter vir Timoteus om voort te gaan in die troue diens van Christus. Timoteus moet te midde van alles die opstanding van Christus in sy gedagtes vashou. Omdat Christus die bande van die dood afgeruk het, is sy woord ook nie gebonde nie. Dit geld ten spyte van Paulus se boeie. Christus regeer in die hemele en Hy maak sy kerk bymekaar vanuit die hemele. Die Gees stel deur hierdie vaste oortuiging vir Paulus in staat om sy lyding te verdra. Dan gee Hy kort en kragtig die inhoud van die ongebonde woord waaraan Timoteus moet vashou.

God se trou in ons trou

Paulus begin deur te stel dat die woord wat Hy nou gaan meedeel betroubaar is. Dit is geloofwaardig. Dit moet as’t ware eintlik vir Timoteus soos ’n lewensbelydenis wees. So vas en so seker is dit wat Paulus gaan sê. As ons tot in die dood aan Christus getrou is, sal sy oorwinning oor die dood ook ons oorwinning word. As ons die lyding wat daar nog in hierdie lewe is ter wille van Christus verdra, sal ons in die ewigheid saam met Hom regeer. Dit is die trou waartoe die Heilige Gees ons lei. Dit is die inhoud van die betroubare woord. Volharding in die ware geloof sal uitloop op ewige heerlikheid. God is getrou in ons getrouheid.

God se trou in ons ontrou

Die teendeel geld egter ook. Wanneer ons ’n lewe leef waarin ons in ongeloof vir Christus ontken, dan sal Hy ons ook voor sy Vader ontken. Die lewe van ’n ware gelowige is immers geen lewe van verloëning nie, maar ’n lewe van belydenis. Ware geloof kom tot belydenis, nie tot verloëning nie. Dit beteken nie dat Christus dan ewe skielik aan ons ontrou is nie. Christus bly getrou. Hy bly getrou aan wie Hy is en wat Hy sê. Dit is vir ons ’n troos, maar ook ’n waarskuwing. Christus is getrou aan wat Hy sê. Dit beteken dat Hy ook elkeen wat Hom verloën sal verloën. Hy het dit immers gesê. Hy kan Homself nie verloën nie want Hy is ewig getrou. Hy is onwankelbaar in wese en in krag. Daarom moet ons gelowig vashou aan alles wat Hy sê. Dit geld vir sy beloftes en sy waarskuwings. Doen dus diep selfondersoek na die lewe wat jy leef. Die lewe wat op ewige heerlikheid uitloop is ’n lewe van ware geloof. Dit is ’n lewe waarin Christus deurlopend en in alles bely word. Die lewe wat uitloop op Christus se skrikwekkende oordeel is ’n lewe van ongelowige verloëning. God bly te midde van ons trou en ontrou getrou aan alles wat Hy sê. Hy het sy verbond met ons by Homself gesweer. As Hy dus daaraan ontrou is verloën Hy Homself. Dit kan nie. Let dus op dit wat Hy sê. Hou vas aan sy betroubare woord. Dit is nie gebonde nie. Dit sal jou dra, selfs al begin die boeie van die dood jou sterker vasklem.