Efesiërs 1:3-14
‘So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het.’
IN CHRISTUS EWIG BESTEM OM GOD SE KINDERS TE WEES
God is liefde – die fondament van die evangelie. Dit sien jy gereeld langs borde op die pad. Of op prentjies wat op sosiale media of selfone rondgestuur word. ’n Kragtige belydenis van wie die Here is. Dit is waar volgens die Woord. Op meerdere plekke word dit so beskryf – God is liefde. Maar dit is ook ’n belydenis wat vreeslik misbruik word. Veral deur ongelowiges. As die God van liefde dan bestaan – Hoekom is daar dan soveel siekte en swaarkry? Hoekom is daar soveel aardbewings en vloede? ’n Liefdevolle God sal dit nooit doen nie. Dus God bestaan nie. Ook gelowiges misbruik hierdie uitspraak.
God is liefde. Hy sal tog nie wil, dat ek ongelukkig moet wees nie. Dus mag ek doen waarby ek my gelukkig voel. Kuier soos wat ek wil, afstand neem van ’n kerk wat nie vir my lekker is nie. Ek kan maar sê wat ek dink van ander mense. Dit wat ek wil doen, moet ek doen sodat ek gelukkig is. God sal tog verstaan dat ek dit goed bedoel. En as dinge skeefloop, in my huwelik, in my gesin, in my kerk. Dan kan ek dit ook maar los. God verstaan dat ek ’n swak mens is, hy is dan ’n God van liefde. Hy sal my aanvaar soos wat ek is. Albei doen onreg aan die liefde van God. Daar is nie werklik kennis wat die liefde van God is nie. Hierdie liefde word so klinkklaar in Efesiërs 1 beskryf. Die gedeelte is ’n lofprysing waarin die seëninge van die Here beskryf word. Hierby staan ons vanaand stil. In Efesiërs word die liefde van God vir ons beskryf. En dit is dat ons vir ewig kinders van God sal wees.
Die liefde is gegrond in die uitverkiesing
Na die sondeval het ons en al die ander mense op die aarde in die verderf geval. Die mensdom verdien die ewige dood. God het besluit dat Hy vir Hom kinders uitkies uit die mensdom. Nie omdat hulle dit verdien nie, maar omdat Hy ’n genadige God is. Hierdie besluit het Hy reeds voor die skepping geneem. Reeds toe het Hy dit so beskik dat daar mense sal wees wat saam met Hom sal leef tot in ewigheid.
Die liefde is gegee deur Jesus Christus
Sy uitverkore kinders red Hy van die verderf deur sy Seun Jesus Christus. Uit liefde vir ons het Hy Hom na die wêreld toe gestuur. Hy kom om ons saligheid te bewerk. Daarom noem ons Hom ons Saligmaker.
Die liefde word bevestig deur die Heilige Gees
Hoe weet ek dat ek uitverkies is? Kan iemand daarvan seker wees? Ja, deur die geloof word dit bevestig in ons harte deur die Heilige Gees. Die Here het Hom gegee as onderpand. Hy gee vir ons sekerheid dat ons deel in die erfdeel van die Here. Dat ons, onsself uitverkore kinders van God mag noem.