2 PETRUS 1:3-21
‘WANT ONS HET NIE KUNSTIG VERDIGTE FABELS NAGEVOLG TOE ONS JULLE DIE KRAG EN KOMS VAN ONSE HERE JESUS CHRISTUS BEKEND GEMAAK HET NIE, MAAR ONS WAS AANSKOUERS VAN SY MAJESTEIT.’
AANSKOUERS VAN SY MAJESTEIT
Wat is die doel van die lewe? Mense hou nogal van die vraag – Wat is die Here se plan met my? As daar goed of sleg gebeur, dan word die afleiding meestal gemaak, dit is alles deel van die Here se plan vir my. Wat is die doel van jou lewe? Dag in en dag uit is jy besig met jou daaglikse dinge. Daar word kosgemaak en skottelgoed gewas. Die wasgoed word uitgesorteer. Die kinders by die skool afgelaai. Jou daaglikse roetine herhaal jy by die werk of by die huis. Waarom doen jy wat jy doen? Wat is die sin daarvan? Die dinge waarmee jy elke dag besig is? Die Here gee vir ons deur sy apostel Petrus antwoord. Al hierdie dinge het sin, as dit in die lig van Christus gebeur. Die doel van die mens is om God te eer. Dit is ook elkeen van ons se doel. So eenvoudig soos dit. Nie iets anders nie, maar dit. Dit is nie iets wat in die toekoms moet gebeur nie, dit gebeur elke dag, in die daaglikse dinge wat jy doen. Hieraan herinner Petrus die gemeentes van Jesus Christus. Hy plaas ons fokus op Hom. Hy is die lig van ons lewens. In Hom het alles wat ons doen elke dag sin.
DIE LIG VAN DIE LAM
Petrus skryf hierdie brief op sy oudag. Ons hoor hier wyse woorde van ‘n ou man aan die nageslagte wat nog selfs moet kom. In die gedeelte wat ons gelees het, word ‘n hele paar sake aangespreek. Die kern hiervan hoor ons in die gedeelte uit vers 16: Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het. Petrus herinner die uitverkorenes dat hulle in die lig van die Lam moet wandel.
DIE LAMP VAN DIE WOORD
Die meeste kinders van die Here ken die teks uit die Bybel: ‘U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.’ Die bekende woorde uit Psalm 119 wat ons ook graag sing. Meestal word dit verstaan dat God se Woord vir ons die weg wys. Met die wysheid uit God se Woord kan jy verantwoordelike keuses in die lewe maak. Deur die Woord weet jy wat reg is en verkeerd. Die lig van die Lam, skyn nou vir ons konkreet deur die lamp van die Woord.