Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word

Skriflesing: Maleagi 1     Fokusvers: 6       Sing: Ps. 66:6,7,8; Ps. 51:3,8; Ps. 50:4,5,7; Ps. 4:2,3; Ps. 107:1,3,10.

Dit is ’n geweldige sonde wanneer God nie erken word vir Wie Hy is nie. Dit het uit die offers wat Juda se priesters gebring het geblyk dat hulle God nie gewigtig genoeg ag nie. Die agtergrond waarteen hierdie gebeure afspeel is die se terugkeer uit die Joodse ballingskap. Nadat die volk die tugtiging van die Here moes deurgaan het daar ’n oorblyfsel van hulle in 539 voor Christus na Jerusalem teruggekeer. Hulle het steeds onder die heerskappy van die Persiese ryk gestaan. Toe Maleagi geprofeteer het was dit reeds rondom 458 voor Christus. Die volk het teen die tyd al baie swaarkry beleef. Daar was ook groot afvalligheid en eiewilligheid onder die volk. Die volk het as gevolg hiervan die Here maklik verwyt. Die volk vra verwytende vrae, waarop God antwoord.

Die Here van die leërskare se aanklag

Nou kom God en verwyt die volk vir hulle eerlose Godsdiens. Die Here stel dat ’n vader en ’n eienaar maklik eer ontvang. Hy vra dan konfronterend waar sy eer is. Hy is immers sy volk se Vader en Eienaar. Hy het hulle as Vader deur die eeue versorg en bewaar. Hy het hulle as Vader ook intens getugtig. Hy het hulle deur sy verbond met hulle te sluit sy eiendomsvolk gemaak. Tog “eer” die volk Hom nie. Die woordjie wat met eer vertaal word hou baie nou verband met “gewig”. Wanneer iemand geëer word, dan word die gewigtigheid of die belangrikheid van daardie persoon erken. ’n Vader wat geëer word, word erken vir wie hy is. Hy word gewigtig geag. Daar is vir hom ontsag. Tog het die volk God nie erken vir wie Hy is nie. Alhoewel Hy hulle as Vader liefgehad het en beskerm het, het hulle nie eer wat Hom daarvoor toekom erken nie.

Die Here van die leërskare se bewys

Die Here Nou bevraagteken die volk wel hierdie aanklag. Hulle vra waarin hulle God nie geëer het nie. Die antwoord lê in hulle offers. Die offers wat hulle aan God bring is nie hulle beste nie. Dit is ook nie volgens God se voorskrif nie. Hulle bring onrein offers op God se altaar. Hulle bring ook blinde en verlamde diere om aan God te offer. Hulle sê eintlik daarmee dat God geen groter erkenning as dit moet kry nie. Indien hulle God as liefdevolle Vader erken het, sou hulle hul beste vir hom gegee het. Hy gee immers sy beste vir hulle. Deur sy verbond deel Hy Homself as Vader en Eienaar aan hulle toe. Wat is tog beter as dit? Die volk se diens aan God het inderdaad God se Naam in oneer gebring. Hierdie Skrifgedeelte bring egter elke gelowige voor ’n belangrike vraag. Hoe lyk ons diens aan die Here? Gee ons vir God ons beste. Erken die manier waarop ons as lewende dankoffers voor Hom leef Hom as Vader? Hy het Hom immers nog voller as ons Vader openbaar as wat Hy aan die Ou Testamentiese kerk het. Hy het vir ons sy liefde en getrouheid gewys in Jesus Christus. In Christus het Hy Homself aan ons toebedeel. Hy is vanweë Christus se volkome onbevlekte offer ons Vader, nie meer die Regter voor wie ons veroordeeld staan nie. Hy het vir ons die beste gegee. Hy het selfs deur sy Gees in ons kom woon sodat ons kan weet hoe ons Hom moet eer. Sy Gees wek ontsag in ons, sodat ons ons beste vir die Here wil gee. Eer Hom dan deur met die volle erkenning dat Hy jou Vader is te leef!