Esegiël 33:1-20
Mattheus 18:15-20
‘Jy, mensekind, as ‘n wag het Ek jou aangestel oor die huis van Israel. Jy sal uit my mond die woorde hoor, en dan moet jy hulle van my kant af waarsku…Sê vir hulle, So seker as wat Ek leef, is die uitspraak van my Heer, die HERE: Ek vind geen vreugde in die dood van die goddelose nie, maar wel vreugde daarin dat ‘n goddelose terugkeer van sy pad, en leef. Keer terug, keer terug van julle bose paaie! Waarom moet julle sterf, huis van Israel?’
SOOS WAGTERS OP DIE MURE
Hoekom dink jy soos wat jy dink? Waardeur word jou gedagtes gevorm? Wat is die impak van menings en opinies van ander mense op jou? Van programme en stories wat jy op jou tv kyk? Is jy bewus van die tydsgees waarbinne ons leef? Kan jy onderskeid maak vanwaar sekere gedagtegoed kom? Esegiël 33 is ‘n baie aktuele deel in die Woord van die Here. Die rede hoekom dit so aktueel is, is omdat hierdie gedeelte ons direk plaas in die geestelike oorlog, waarbinne elkeen van ons onsself bevind. Paulus skryf hieroor in Efesiërs 6:12 – ‘Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.’ Belangrik om dit te besef. Alles is nie goed en wel nie. Ook nie hier waar ons vryheid van geloof het nie. Die duiwel los dit nie daarby nie. As hy nie met harde vervolging kom nie, dan gebruik hy sy gevaarlike sagte manier. Hy val ons manier van dink aan. Daarin probeer hy ons van Christus en sy evangelie vervreem. Presies hieroor spreek die profeet van die Here die volk aan.
As wagter aangestel
Esegiël se aanstelling as wagter word hier weer bevestig. Reeds aan die begin het die Here hom hiervoor aangestel (Es. 3:17). Daar het Esegiël die opdrag ontvang om die volk van die Here in Jerusalem te waarsku. Op die oomblik is Jerusalem reeds verwoes. Die fokus word nou geskuif na die ballinge in Babel. Esegiël tree nou vir hulle as ‘n wagter op.
Toegerus met die Woord
By die ballinge ontbreek daar ware Godkennis. Die manier hoe hulle dink en praat getuig hiervan. Hulle dink: In die verlede het ons die verkeerde gedoen. Die Here het ons daarvoor gestraf. Jerusalem die Godstad is vernietig. Die Here het ons afgeskryf. Dit is verby. Daar is geen hoop meer nie. Esegiël vertel hulle dat dit verkeerd is. Daar is geen rede vir wanhoop nie. Die Here het immers geen behae in die verderf van goddeloses nie. Hy soek bekering en redding. Daarom moet die volk hoor – Bekeer, hou op om die verkeerde dinge te doen.
Bekering en gehoorsaamheid
Die ballinge moet bekeer. Hulle word tot gehoorsaamheid geroep. Hier hoor ons die krag van die evangelie. ‘n Goddelose wat tot God bekeer gaan nie vanweë sy vroeëre sondes verlore nie. Die woorde van Psalm 130 moet tot hulle deurdring – ‘Maar nee daar is vergewing altyd by U gewees…’ Hierdie vergewing is werklikheid deur Jesus Christus.