Skip to content
Menu

Johannes 4:27-42
Handelinge 8:1-8

‘En Filippus het na ‘n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig…en daar het groot vreugde in daardie stad geheers.’

Kerk in die stad [Samaria]

Van die christelike feesdae het Pinkster sekerlik die feestelikste karakter. Veral as jy na die Bybelse geskiedenis kyk. Kersfees, die geboorte van Jesus, word deur enkele mense in Betlehem gesien. Goeie Vrydag, die kruisiging van Jesus, het baie mense meegemaak, maar die omstandighede was nie feestelik nie. Paasfees, die opstanding van Christus, was deur ‘n klein groepie mense ervaar. Pinkster is anders. Die rukwind, vuurvlamme op die koppe. Die prediking van Petrus wat in allerlei tale verstaan word. Die impak daarvan groot. Op een dag word 3000 mense gedoop. ‘n Paar maande na die uitstorting van die Heilige Gees, sien ons hoe die Here in Samaria werk. Filippus het gegaan en Christus aan hulle verkondig. Dit bewerk in die stad ‘n groot verandering. Onrein geeste word uitgedryf. Kreupeles en verlamdes word genees. Baie mense kom tot geloof. Daar was groot vreugde in die stad.

Samaria – die eerste stad

Die eerste sewe hoofstukke van Handelinge gebeur in Jerusalem. Die kerk het daar van krag tot krag gegaan. Vir ‘n tyd. In Handelinge 7 word Stefanus gestenig. Die eerste martelaar. Sy dood is die begin van ‘n verskriklike christenvervolging. Dit lei tot die verspreiding van Christene oor Judea en Samaria. In hierdie vervolging speel Saulus ‘n leidende rol. Wat doen hulle wat moet vlug vanweë hulle geloof? Sit hulle in ‘n slagoffer rol? Bekommerd oor hulle eie probleme? Bang vir moontlike lyding wat kom? Nee, hulle verkondig die Woord van God – ‘Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig.’ (vers 4) Die spreekwoord sê – Die bloed van die martelare is die saad van die kerk. Waar christene ly, word die evangelie ‘n besondere krag, waardeur mense geraak en aangespreek word. In die konteks sal jy selfs kan sê: ‘n Kerk, in ‘n welvarende samelewing, wat nie vervolg word nie, is eerder ‘n probleem as ‘n seën. Samaria is die eerste stad waar die verstrooides die evangelie verkondig.

Christus word verkondig

In die stad verkondig Filippus Christus. Hy doen dit want Jesus is die inhoud van die Woord van God. In Hom, die Seun van God, die Verlosser en Here, kom die hele evangelie saam. In persoon is Jesus Christus God se evangelie. Die goeie boodskap vir die wêreld. Hierdeur laat Filippus sien, wat ons taak in die stad is: Om Christus te verkondig. Om te getuig dat Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Aantoon dat Hy ook in ons stad alle outoriteit het. Alle mag in die hemel en die aarde behoort aan Hom.

Groot vreugde in die stad

Lukas vat saam wat daar in Samaria gebeur: Daar was groot vreugde. Die evangelie is ‘n boodskap van vrede. Vrede is ‘n tipiese kenmerk van ‘n christen. Dit is eie aan kerke van Jesus Christus.