Esegiël 37:1-14
2 Korinthiërs 5:11-21
‘Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen. Dit is die uitspraak van die Here.’
GESKEP OM TE LEEF
Stel jou voor ons is die laaste kerk oor in Pretoria. Oor die jare het die christendom gekwyn, en ook hier is ons op ‘n punt op die kerkdeure toe te maak. Wat sal die effek daarvan wees op die gemeenskap? Die harde realiteit is dat dit op ander plekke wel die geval is. In wêreldstede waar daar eens baie kerke was, is maar ‘n handjievol christene oor. Dit bevestig die feit dat groot dele van die Westerse wêreld, hulleself in ‘n post-Christelike wêreld bevind. Die kerk en die kerklike lewe kwyn weg. Lewens word vol gemaak met dinge waarin die geloof nie ‘n rol speel nie. Die geestelike leegte word vinnig gevul met ander dinge. Soveel tyd word ingesit vir ‘n gesonde lewenstyl. Ure is mense besig met hulle liggame. Met die opknapping of make-over van woonomgewings. Ure word spandeer voor Netflix, sport en ander genot. En so verval massas mense in ‘n geestelike leegte. Wandel mense hier op die aarde, maar hulle is lewendig dood. Dit maak Esegiël 37 vir ons vanoggend ‘n baie aktuele saak. Die laagte vol dooie beendere is nie ver weg nie. Daarby word die nie gelaat nie. Die Here toon aan dat daar in dooie beendere weer lewe kom. Hierin hoor ons die kern van die evangelie.
God die Skepper
Esegiël ontvang ‘n visioen. Die Here toon vir Hom ‘n skrikwekkende beeld aan van ‘n laagte vol met skelette. Daar vra die Here vir Hom: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Esegiël toon aan dat hy nie weet nie, maar deur die geloof antwoord hy: “My Heer, HERE, net U weet dit.” In die antwoord van die Here word dan duidelik aangetoon dat God die God is van die lewendes en nie die dooies nie. In twee stappe sal die dooies weer tot lewe kom. Eerstens word die beendere omvorm tot dooie liggame. Vervolgens word die gees in hulle ingeblaas. Dan sal hulle opstaan om ‘n leërskare van God op hierdie aarde te wees. Vol gees en geesdrif.
Jesus Christus die Herskepper
Israel verkeer in ‘n hopelose situasie. Hierin laat die profeet van die Here sien dat daar uitkoms is. Hy is kragtig en waaragtig. Hy doen wat Hy belowe het. Esegiël roep dit volk van die Here op om te breek met wanhoop omdat God lewend is. Van Hom mag jy alles verwag. Hierin wys Esegiël na Jesus Christus. Hy wat self sê.- Ek is die opstanding en die lewe. Hy wat self uit die dood uit opgestaan het.
Die Gees maak lewend
In 1 Korinthiërs 2:9 staan daar – ‘Maar soos daar geskryf staan: Wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het, en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie – dit het God voorberei vir diegene wat Hom liefhet.” Deur die werk van die Gees leef ons. Deur die genade van die Here staan ons in sy diens. Is ons gered en opgewek vanuit die dood.