Skip to content
Menu

Genesis 4:1-16
Mattheus 5:21-26
HK Sondag 40

‘Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur.’

Veiligheid begin by God

Jy mag nie doodslaan nie. Hierdie gebod raak elkeen van ons. Moord en doodslag. Miskien ken jy dit nie van naby nie. Jy hoor daarvan in die nuus. Mense wat doodgaan in oorloë. Dit wat op die oomblik op heelwat plekke gebeur. Soldate en terroriste wat baie mense doodmaak. Op ons eie landsbodem sien ons dit ook gereeld. Die moordsyfer is hoog. Rowers breek by huise in. Hulle plunder en moor. Deurlopend in die laaste jare is daar baie moorde. Boere is onveilig op hulle plase. Politici praat gereeld vreemd hieroor. Begrawe hulle almal. Jaag hulle die see in. Haatspraak. Plaaslik het dit afgelope week weer gebeur in ‘n raadsvergadering waar iemand stel dat hy die “bloed van ‘n Afrikaner soek”. Dit sit jou aan die dink oor veiligheid. Waar vind jy veiligheid? Voel jy veilig as jy jou omgewing rondbeweeg? Dit word in die sesde gebod aangespreek. Dit gaan oor respek vir die lewe van ‘n ander.

Hy verbied die kwetsing van lewe

In die begin in die tuin van Eden het die mens saam met die Here in veiligheid geleef. Hierdie veiligheid is deur die sondeval vernietig. Die mens het in sy diepste wese ’n moordenaar geword. Die wêreld is ’n deurdrenkte slagveld. Die Here sê – Jy mag nie moord pleeg nie. Dit sluit elke vorm van haat, woede, wraak en afguns in. Mense se lewens mag nie gekwets word nie. Die Here het dit gemaak en dit is sy eiendom.

Hy gebied die beskerming van lewe

Hoe doen jy dit? Dit doen jy deur mense op te bou met jou gedagtes, woorde en gebare. Jesus sê – ‘Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle ook aan hulle doen; want dit is die wet en die profete.’ (Mat 7:12) Ons moet lewe beskerm. Dit behels aksie. Ons kan nie terugsit en kyk hoe moordenaars tekere gaan nie. Die wet van die Here geld vir elke mens op hierdie aarde.