Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Lees:               Esegiël 47:1-12; Openbaring 22:1-5,16-17       Teks: Esegiël 47:9b        Sing: Ps. 122-1:1,2; Sb. 12-3:1,2; Ps. 25-1:2; Ps. 105-1:5; Ps. 1-1:2; Ps. 107-1:17,18; Sb. 18-7:1,8,9.

‘Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom.’

Die lewende stroom van God se genade

‘Sien jy dit mensekind’, sê die man vir Esegiël in ‘n visioen. Loop saam met my en kyk wat hier gebeur. So word Esegiël rondom die tempel gelei, en deurdat dit vir ons opgeskryf is, stap ons saam. Ook ons mag die tempel in die visioen sien. Die tempel wat die plek van God se teenwoordigheid voorstel. Die plek waar die heerlikheid van die Here sigbaar word. In Hoofstuk 40 is daar met die beskrywing van die toekomstige tempel begin. Tot in die fynste detail is dit opgeteken. Die visioen gaan oor die toekoms. Dit gee vir ons toekomsperspektief. Die visioen leer ons om met ander oë na die werklikheid en dit wat ons ervaar te kyk. Want hier hoor ons: Altyd is daar hoop. Die uitkoms staan vas. Al sit God se volk in ballingskap. In ‘n dor en droë woestyn van ‘n vreemde land. Al ervaar hulle die gebrokenheid van die wêreld, ontvang hulle hierdie goeie nuus.

Die oorsprong van die rivier

Terwyl Esegiël deur die tempel kompleks gelei word, sien hy iets besonders. Onder die tempel borrel daar water uit. Die bron van die water is die heiligdom van God. Die enigste rede hoekom die water vloei, is omdat God dit in sy goedheid so beskik. In die NGB artikel 1 bely ons oor wie God is: ‘Hy is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.’ Die stroom wat uitloop en later ‘n rivier word, loop langs die brandofferaltaar. Die opborrel van die water word in werking gesit deur Jesus Christus. Deur sy werke aan die kruis op Golgota word dit moontlik.

Die omvang van die rivier

Die rivier wat Esegiël sien begin klein, maar dit word vinnig so groot dat jy nie eers daardeur kan swem nie. Ons Here Jesus Christus sluit by hierdie beeld aan. Hy sê dat die rivier die Gees is. Die Gees wat God vir sy kinders gee (Johannes 7:37-39). Die koninkryk van God begin by sy teenwoordigheid onder die mense. Dit is Jesus Christus wat self mens geword het. Vanuit Hom stroom die lewende water. Net soos die rivier het die koninkryk van God ‘n klein begin wat kragtig groei. In die visioen openbaar die Here aan ons die onstuitbare, helende en genesende krag van God se koninkryk.

Die krag van die rivier

Esegiël 47 plaas die fokus op die genesing wat die rivier veroorsaak. Hierin word die krag van die Here geopenbaar. Die gedeelte sluit aan by die begin van die Bybel. Ons sien hier die herskepping van die paradys met die riviere en die bome wat terugkeer.