Skip to content
Menu

Hebreërs 5:11-6:12

‘Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande Christus, en voortgaan na volwassenheid’

GELOOFSGROEI

Die mens se liggaam is fisies afhanklik vir kos. Elke dag eet jy, sodat jou liggaam krag het. So voorsien die Here, dat jy fisies jou daaglikse arbeid kan doen. Geestelik het ons ook voeding nodig. Baie mense vergeet daarvan. Vergeet dat jy geestelik gevoed moet word. Soveel mense, ook wat hulleself christene noem, is geestelik verwaarloos. Neem nooit geestelike voedsel in nie. Maar daar waar die siel gesond is, daar is honger na dié voedsel. Gelowige kinders van God kom honger kerk toe. Met ‘n wil en ‘n ywer om God se Woord te hoor. Om geestelik gevoed die word. By die Hebreërs het dit ontbreek. Daar was nie honger nie, daar was traagheid. Hierop word hulle aangespreek. Jesus Christus is sopas as die Hoëpriester verkondig, maar deur hulle traagheid sal van die Hebreërs dit nie verstaan nie. By van hulle ontbreek volwassenheid. Daarom word die preek onderbreek, met hierdie ernstige waarskuwing. Voordat daar verder onderwys gegee word, moet die hoorders eers op hierdie saak gewys word. Hulle word gewaarsku dat hulle in die geloof stagneer. En dit is gevaarlik. Want ‘n geloof wat nie groei nie, is ‘n geloof wat sterf. Hierin praat die Here duidelik met ons vandag. Hy spreek ons aan daar waar ons traag is. Oor ons honger vir die evangelie. Want hoe kom jy kerk toe? Hoe luister jy na die Woord van die Here? Met honger? Hoe sit jy hier voor die Almagtige God?

Die waarskuwing vir traagheid

Moenie traag wees om te hoor nie. Die Hebreërs het traag geword. Dit het fatale gevolge. Want deur die gehoor werk die Here geloof. As iemand die evangelie nie hoor nie kan hy dit ook nie glo nie. Dit spreek ons vandag aan oor hoe ons elke Sondag in die kerk sit en oor ons ingesteldheid as die Woord van die Here oopgemaak word.

Die aansporing tot volwassenheid

Die Hebreërs word aangespoor om nie terug te gaan na die melkkos nie, maar dat hulle vaste kos moet inneem. Die melkkos verwys na die Ou Testament. Dit is die begin, die fondament. Nou het Christus gekom en kan daar nie weer terugbeweeg word na die ou bedeling nie.

Die opdrag tot navolging

Teenoor traagheid staan navolging. Die gelowiges moet Jesus Christus navolg. Met ywer moet hulle erns maak met die Woord van God en kragtig aan sy beloftes vashou. Nie net aan sommige gedeeltes nie, maar in sy geheel. Nie traag om te hoor nie maar honger om in die geloof te groei.