Die heerlikheid van die toekoms is groter!
Die volk van die Here is in ons Skrifgedeelte nog broos na die ballingskap. Nadat God hulle vir sewentig jaar in ballingskap getugtig het, het hulle uiteindelik na Jerusalem teruggekeer. Daar het hulle begin om die huis van die Here, die tempel, te herbou. Dit is in hierdie tyd wat die profeet Haggai die Woord van die Here aan hulle bring. Hy moedig die volk aan om die beloftes van die Here gelowig te omhels deur ywerig aan die tempel en die stad te bou. Maar wanneer die volk hulle daarmee besig hou dan word ’n groot deel van hulle baie hartseer. Die oues onder hulle se gedagtes voer hulle terug na:
Die heerlikheid van die verlede
Die volk moet weer die tempel wat verwoes is herbou. Maar daar is onder hulle nog ouer mense wat die heerlikheid van die eerste tempel gesien het. En daardie tempel was baie meer voortreflik as die een waarmee hulle nou besig is. Dit was ’n tempel wat werklik met die skatte van die nasies gebou is. Dit was ’n tempel wat gebou is onder die voorspoedige regering van Salomo. Dit was ’n tempel wat gebou is uit oorvloed. Hierdie ou tempel het as simbool van God se teenwoordigheid getuienis gelewer van God se nabye heerskappy onder sy volk. Die volk het deur hierdie tempel iets van God se vredesheerskappy leer ken. Maar nou is dit weg. Die nuwe tempel word gebou onder armoedige omstandighede. Alles is soveel minder voortreflik as in die verlede. Die volk herbou die stad na verwoesting. Die merke van hulle ontrou en die merke van God se toorn is duidelik in die werk wat hulle probeer doen. Daarom belowe die Here dan by monde van Haggai aangaande:
Die heerlikheid van die toekoms
Die Here stel teenoor die heerlikheid van die verlede die heerlikheid van die toekoms. Dit sal volgens sy Woord groter wees. Opmerklik dat die toekoms nie met die hede gekontrasteer word nie. Nee, die heerlikste herinneringe word gekonfronteer met die belofte van die toekoms. Dit is ’n heerlikheid waar die huis sal bewe voor die Here se almag. Dit is ’n toekoms waar die Heilige Gees vas en blywend onder sy volk sal woon. Dit is ’n toekoms waar daar weereens skatte van die nasies sal toevloei om die huis van die Here te bou. Hierdie toekoms is vervul in die Nuwe Testamentiese kerk as huis van God. Christus se bewerking van hierdie heerlike toekoms het die aarde laat sidderbeef. Maar dit het ook gebewe toe Hy sy Gees oor sy kerk uitgestort het. Die skepping het getuig van die heerlikheid van sy werk. En die Gees het met pinkster bestendig in sy volk kom woon. Die skatte van die nasies het toegevloei in die mense wat uit verskeie nasies tot bekering gekom het. Dit is die heerliker toekoms. Ons het as gemeente daaraan deel. Eintlik kan ons ook baie keer verlang na die heerlikheid van die verlede. Maar ook vir ons is die heerlikheid van die toekoms nog groter. Daardie heerlikheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en wat in die hart van geen mens opgekom het nie.