God se welgevalle in ons feeste
Die profeet Amos tree in die agste eeu voor Christus in Israel op. Die Here het hom van sy boerdery af geroep om teen die volk Israel, die Noordryk, te profeteer. Die profesie wat hy in die Naam van die Here teen Israel uitspreek is in ’n sin verbasend. Dit is ’n swaar oordeelsprofesie. Die oordeel wat die Here oor Israel aankondig is swaarder as sy oordeel oor die volke rondom hulle. Dit is vreemd, aangesien Israel op hierdie tydstip groot voorspoed beleef. Hulle sou kon dink dat hulle eintlik deur die Here geseënd is. Hulle het groot welvaart en rus van hulle vyande. Maar hulle gerustheid is ’n valse gerustheid. Daar is ernstige probleme met hulle diens aan die Here.
DIE FEES WAT GOD VERSMAAD
Die Here stel in ons Skrifgedeelte dat Hy geen welgevalle in sy volk se feeste is nie. Dit is verskriklik. Hulle vier immers fees op sy bevel. Hy het hulle Godsdiens ingestel. Waarom sou Hy nou sê dat daardie feeste nie vir Hom welgevallig is nie? Dit is nie asof die volk dit nie gevier het nie. Dit is ook nie asof hulle nie hulle beste kalwers gebring het nie. Maar die Here wil nie eers hulle liedere meer hoor nie. Die rede: Dit is maar net feeste. Dit is maar net liedere. Niks meer nie. Die gemeenskap met God wat daardeur sigbaar gemaak moet word ontbreek. Hulle lewe nie in geregtigheid voor Hom nie. ’n Fees wat dus maar net gevier word en ’n lied wat maar net gesing word is nie vir die Here welgevallig. Daarom moet ons as gemeente die vraag antwoord: Wat lê agter ons feeste en ons liedere?
DIE FEES WAT GOD BEHAAG
Die Here stel dat die volk hulle feeste voor Hom moet wegneem. Hulle moet eerder reg en geregtigheid voor Hom beoefen. Feeste en liedere is immers niks anders as skynheiligheid as dit nie met ware geregtigheid gepaard gaan nie. Die fees wat die Here behaag is ’n fees waarin die versadiging met sy geregtigheid gevier word. Dit is ’n fees wat gelowig gevier word. Dis ’n fees wat gevier word omdat sy reg en geregtigheid in geloof omhels is. Daardie geregtigheid het vir ons aangerol in Jesus Christus. Die Here se reg en geregtigheid is vir ons versadiging, eerder as verskrikking, omdat die geregtigheid van Jesus vir ons toegereken word. Dit is iets om te vier. Maar dit is iets wat ons opreg moet vier. Dit is iets wat met werke van geregtigheid gepaard moet gaan. Laat ons as gemeente daarom ons feeste ondersoek. Ons kom sing immers elke Sondag op die Here se opstandingsfees. Ons kom volgende week om in die nagmaal die verbondsmaaltyd van die Here te geniet. Dit is feeste wat ons nie durf vier sonder dat die geregtigheid aanrol soos watergolwe en die reg soos ’n standhoudende stroom nie.