Skip to content
Menu

‘…en die naam van die stad is van nou af: Die-Here-is-daar.’

KERK IN DIE STAD [JERUSALEM]

‘n Pragtige plek, ‘n indrukwekkende stad. As jy die woorde hoor, jou dit voor oë stel, dan skep dit verbasing. Met jou oë kan jy nie alles inneem nie. Met jou verstand kan jy nie alles verstaan nie. Daar is nie genoeg woorde om die nuwe stad te beskryf nie. In Openbaring en Esegiël hoor ons die een en andere hieromtrent. Die stad wat so pragtig ontwerp is met ‘n geordende netwerk van strate. Oral is dit lig. Daar is nie donker hoekies of arm agterbuurte nie. Jy kan die stad binnekom deur een van die twaalf poorte. Die sentrale plein is ‘n belewenis op sigself. Daar is ruimte vir ontmoeting. Daar staan die troon van die Koning. Die materiale wat die Argitek gebruik is aangrypend – edelstene en edelmetale. Nie net om mee te bou nie, maar ook om te versier. Die hele stad is skitterend. Dit straal van skoonheid. Die kleure van robyn en smarag, maar ook die natuurlike kleure is daar. Parke en tuine maak dit ‘n groen stad. ‘n Rivier met water vloei daardeur, daar is bome om van te eet. Oraloor kan jy vars lug inasem.

Sien die stad van God

In God se openbaring en in sy reddingsplan, speel Jerusalem ‘n onmisbare rol. Dit is die stad van die konings van Israel. Dit is die plek waar die tempel van die Here staan. Oor hierdie stad, die stad van vrede, is daar soveel beloftes gemaak. Dit is die stad waaroor Jesus huil, waar die Heilige Gees uitgestort is. ‘n Knooppunt in God se netwerk van genade. In Openbaring 21 word die nuwe Jerusalem met begrippe beskryf, wat net kan verstaan word binne die konteks van die Ou Testament – die twaalf stamme en poorte, die edelstene, die lam, die rivier, die lewensboom het hulle wortels hierin.

Hoor wat in die stad gebeur

‘n Aantal sake is eie aan die stad. Die Heilige Stad: heeltemal aan God toegewy; daar is geen sonde meer nie (Op. 21:2,8,27) Die Nuwe Stad: ‘Ek maak alles nuut’ (Op. 21:3-5) Die Veilige Stad: die hoë mure is teken hiervan (Op. 21:12-20). Die Mooi Stad: Dit is versier soos ‘n bruid, ‘n pragtige bouwerk as gevolg van God se heerlikheid (Op. 21:2,9,11,21). Die Stad van Lig: Die Lig van God se glorie deurtrek alles, daar is nie ‘n son nie, want die Lam is die Lamp (Op. 21:23,24).

Leef met verlange in jou hart hierna

Die Nuwe Jerusalem word nie deur mensehande gebou nie. Dit is die teenoorgestelde van Babel, die stad waardeur mense die hemel wil bereik. Met die Nuwe Jerusalem neem God self inisiatief. Hy is die Argitek en die Bouer van die heilige stad, wat neerdaal vanuit die hemel. As kinders van God en navolgers van Jesus het ons nou reeds burgerskap van hierdie stad. Daarom leef daar in ons ‘n verlange na hierdie komende werklikheid.