Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Lukas 5:1-11 Teks: Lukas 5:8,10b Sing: Ps. 93-1:1,2,3,4; Sb. 5-4:1,2; Ps. 134-1:4; Ps. 20-1:1,4,5; Ps. 23-1:1,3; Ps. 116-1; Ps. 146-1:1,3,8.
‘Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.”…Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.”
MEDEWERKERS IN GOD SE KONINKRYK
Ons nagmaalsformulier begin met ‘n aanhaling uit 1 Korinthiërs 11:26 – ‘Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom.’ Nagmaal is dus verkondiging. Dit sluit aan by wat ons in Lukas 5 gelees het. Die wonder wat daar gebeur met die visvangs. Dit wat daarvoor gebeur, die prediking van Jesus. Dit wat daarna gebeur, Simon Petrus wat ‘n dissipel word. Dit alles staan in verband met Jesus. Dit bring ons vanoggend by ‘n aantal sake. Want hoe staan dit met jou verhouding met die Here? Met jou Redder Jesus Christus? Is jy ‘n toeskouer wat van ‘n afstand dinge waarneem? Is jy ‘n leerling, ‘n dissipel, wat graag meer wil weet, wat tyd maak om Bybel te lees en met mense hieroor te praat? Is jy ‘n volger, wat selfstandig glo, bid, in die kerk kom, van harte saamsing? Is jy ‘n medewerker? Iemand wat jouself insit vir die Koninkrykswerk van die Here? Dit hou nogal nou verband met hoe jy jouself teenoor die kerk opstel. Is jy ‘n toeskouer van dit wat hier gebeur, ‘n aktiewe lid, of iemand wat ‘n taak in die gemeente vervul? In Lukas 5 het ons gelees van Petrus wat deur Christus ingeskakel word by sy koninkrykswerk. Hierby sluit ons vanoggend aan. Want hier is ons nou besig om die dood van ons Here te verkondig, totdat Hy kom.
Die Here bring ons tot by sondebesef
‘Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.’ Petrus val op sy knieë voor Jesus. ‘n Aangrypende reaksie. By hom is daar nie entoesiasme oor die groot hoeveelheid vis nie. Petrus kom tot die besef hoe klein hy teenoor die Here is. Hy het iets van die heerlikheid en almag van Jesus gesien. Hy besef hy is nie waardig om Jesus se dissipel te wees nie. Daarvoor is hy eenvoudig te sondig. So bring die Here elkeen van ons op die knieë. Hy bring jou tot by skuldbesef en sondebelydenis. Hoe kan ek as sondige man of vrou in die Here se diens staan? Deur jou eie sonde is dit onmoontlik.
Die Here bekwaam ons vir dienswerk
‘Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.’ Dit is presies wat hier met Petrus gebeur. Jesus bemoedig Hom met die woorde: ‘Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.’ Die reaksie is eie aan God. Waar mense hulle voor Hom verootmoedig, in nederigheid neerbuig, tel Hy hulle op en bemoedig hulle. Hy haal die angel van die sonde uit. Ons leë hande vul Hy met sy genade. Hy bekwaam ons as vissers in sy Ryk.