Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier geolg word.

Lees: Jakobus 1:1-18         Belydenis: Sondag 44 v&a 113            Teks: Jakobus 1:14,15          Sing: Ps 19-1:1,4,7; Ps. 25-1:2,6,7; Sb 10-2 (Onse Vader); Ps 119-1:11,12.

‘Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.’

DIE VOLMAAKTE WET VAN DIE HERE LEI ONS OP DIE PAD VAN NABETRAGTING

Die tiende gebod gaan oor ons begeertes en verlangens. Dit gaan oor dit wat jy wil hê. Jou gedagtes en fantasieë. Jou drome en dit wat jy graag in die lewe wil bereik. Dit is ’n gevoel. ’n Verlange na iets wat jy nie het nie. Hierdie gevoel kan jy nie sien nie, maar jy weet baie goed wat dit is. Dit is ten diepste ’n hartsaak. Dit is wat die Here aanspreek in die gebod. Die wending van jou hart. Die laaste gebod sluit aan by al die vorige gebooie. Hier gaan dit nie net oor wat ons daadwerklik doen nie, dit gaan dieper, dit gaan oor ons houding hoe ons dit doen. Oor hoe jy deur die geloof leef. Hoe jy die lewe deurgaan. Die Here eis hier jou hele hart. Jou begeertes moet in die Here gegrond wees. In elke ding wat jy nie die wil van die Here begeer nie, is jy besig met die verkeerde. Die tiende gebod toon aan dat God jou vir hierdie saak verantwoordelik hou. In die laaste gebod sien ons die volmaaktheid van die Here se wet.

Die ontmaskering van slegte begeertes

Die Here verbied dat ons iets onregmatig begeer. Dit is om iets te wil hê, maar wat verbode is. Slegte begeertes is die wortel van alle kwaad. Dit is waar sonde begin. ’n Begeerte vorm in jou hart, hy begin te broei totdat dit van voel na doen gaan. Slegte begeertes moet ontmasker word. Dit is hoe jy daarteen kan stry. Die Here sien immers alles. Selfs jou gedagtes is aan Hom bekend.

Die stimulering van goeie begeertes

Die Here gebied goeie begeertes. Net soos wat jy slegte begeertes kan uitbroei, geld dit ook vir goeies. Goeie begeertes is geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Daar is nog meer. Die mens word gestimuleer om reg te begeer as jy onder die invloed van die Here staan. Gelei deur sy Woord en sy Gees staan ons harte in diens van die Almagtige God.