Skip to content
Menu

Lukas 5:27-39

‘Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word.’

JESUS CHRISTUS – DIE BRON VAN NUWE LEWE

In die gedeelte wat ons gelees het, onderrig Jesus die mense. Vir ‘n tyd is Hy nou al hiermee besig. Daar waar Hy gegaan het, het groot skares mense bymekaar gekom om na Hom te luister. Om te hoor wat Hy leer – ‘n nuwe, lewensveranderende boodskap. Anders as die prediking wat al hulle al vir jare by die Skrifgeleerdes  en Fariseërs gehoor het. Jesus spreek die mense direk aan. Soos byvoorbeeld in die gedeelte vir Levi. Hy gee vir Hom die opdrag – ‘Volg My!’ En omdat dit Jesus is wat hier aan die Woord is, Hy wat met liefdevolle gesag as die Christus praat, volg Levi. Hy los alles net daar, hy staan op en hy volg die Here. Deur Levi kom Jesus vervolgens in kontak met ‘n groot groep tollenaars. Hierdie mense was nie baie gewild nie, hulle het bekend gestaan vir hulle hebsug en afpers van mense. Hulle was belastingamptenare in diens van die besetters. Mense met ‘n slegte reputasie vanweë hulle wettelose lewensstyl. Nou bevind Jesus Homself in hulle gemeenskap. Hy eet selfs saam met hulle – tollenaars en sondaars. Hy identifiseer met mense, waarmee ander liewers niks te doen wil hê nie. Dit skep groot ontevredenheid by die Fariseërs en die Skrifkenners. In die konteks vertel Jesus vir hulle die gelykenis van die nuwe wyn.

Jesus en die mense

In antwoord op die Skrifkenners sê Jesus: ‘Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.’  Hier hoor ons die stem van die Seun van God. Vroeg in sy werke hier op die aarde kom die kruis reeds in beeld. Die tyd wat hy met die sondaars en tollenaars spandeer, is nie ‘n bysaak nie. Hy het gekom vir hierdie mense. Dit is wie Hy is. Hy het gekom om mense te dien, te vergewe, te genees en te bevry.

Jesus is die nuwe wyn

Na aanleiding van die vraag oor die vas, vertel Jesus vir hulle twee gelykenisse. Een oor die nuwe materiaal wat nie by ‘n ou kledingstuk pas nie. ‘n Ander oor nuwe wyn wat nie in ou leersakke pas nie. In hierdie gelykenis is Jesus die nuwe wyn. Met Hom kom daar ‘n nuwe bedeling.

Nuwe wyn kort nuwe leersakke

Nuwe wyn pas in nuwe leersakke.  Hierin word ons as kinders van die Here aangespreek. Dit gaan oor ons wat vol word van die Here. ‘n Christen se liggaam is ‘n woonplek van die Heilige Gees. Hierin is dit belangrik om die evangelie van Jesus Christus te hoor. Dit wat Hy ons leer is in elke opsig bepalend.