Skip to content
Menu

Wins in Christus

Paulus skryf in hierdie hartlike brief aangaande hoe hy sake ag of beskou. Die wyse waarop die Heilige Gees in hom werk het gemaak dat hy die waarde van sekere sake anders skat as voorheen. Sommige sake wat vroeër vir Hom belangrik was is in die lig van die genade wat hy van die Here ontvang het net so goed soos ’n verlies. Sommige dinge wat voor sy bekering as ’n verlies beskou het is nou vir hom soos die kosbaarste wins. Die grootste wins van alles is dan Christus self. Christus is as wins so groot dat hy vir Paulus kosbaarder is as alles wat die dood by Paulus kan wegvat. In ons Skrifgedeelte wys Paulus vir die gemeente verder uit watter wonderlike wins daar in Christus is, sodat hulle nie sal terugval in die verlies van werksheiligheid nie.

Die wins in kennis van Christus

Paulus waarsku die gemeente in Filippi om nie vir die dwaalleer van die Judaïste te val nie. Hulle moenie die heil in Christus soek deur Jode te probeer word nie. As daar nou iemand is wat op sy Jood-wees sou kon vertrou is dit Paulus self. Hy was immers ’n Jood by uitnemendheid. Maar die dinge wat vir hom toe waardevol was, is nou vir Hom net so goed soos drek, soos gemors. Hy het immers nie geweet wat hy mis nie. Maar nou dat hy vir Christus kan ken, weet hy dat Christus uitnemend is bo alle dinge. Dit maak nie sin om op sy Joodskap te vertrou in die lig van Christus nie. Om nou vir Christus te kan ken is wins. Dit is meer as alles wat Paulus verloor het toe hy hom uit die Jodendom bekeer het.

Die wins in sy geregtigheid

Die wins in Christus is dan nie net vir Paulus geleë in wat hy van Christus kan ken nie. Dit gaan vir Paulus ook oor die geregtigheid wat daar in Christus is. Vroeër het hy op sy eie geregtigheid vertrou. Weereens, as daar iemand is wat dit na regte sou kon doen dan was dit hy. Maar selfs hy het deur die werk van die Heilige Gees ontdek dat sy geregtigheid te min is. Die geregtigheid wat voor die regverdigheid van God stand hou is die geregtigheid wat Christus bewerk het. Daarom wil Paulus ook op die dag van die Here gevind word met die geregtigheid van Christus as kleed wat hom bedek. Die geregtigheid van Christus is oorvloedig genoeg om sy skuld en sonde te bedek.

Die wins in sy opstanding

Die finale saak wat nou deur Paulus as wins beskou word is dit wat hy sal ontvang as hy die dood van Christus gelykvormig word. Dit is niks anders as die opstanding van Christus nie. Christus het immers gesterf sodat ons kan sterf. Ons moet ons ou mens afsterf. Hy het opgestaan sodat ons ook die volle lewe as wins kan ontvang.