Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: 2 Konings 6:1-23 Fokusvers:17 Sing: Psalm 68-1:6,8; Psalm 25-1:3,5; Psalm 34-1:2,3,4; Psalm 33-1:3,5,8; Psalm 91-1:5,6,8.
Geloofsoë sien die HERE se leërskare
Die profeet Elisa tree teen die tyd van ons Skrifgedeelte al ’n hele rukkie op in Israel. Hy is die bedienaar van die Woord van die Here in hierdie donker deel van die volk se geskiedenis. Deur die genesing van Naäman het Elisa selfs in die buiteland bekendheid verwerf. In ons Skrifgedeelte is dit egter uiteindelik die Satan wat ’n aanval loots op hierdie man van God.
Die oog van die koning
Die koning van Aram is in hierdie tyd besig om vir Israel te teister. Hy val die volk aan met sy bendes. Sy posisies lek egter heeltyd uit. Hy kan nie sien wie dit is nie en daarom raak hy verbouereerd. Wanneer hy uitvind dit is Elisa stuur hy ironies genoeg manskappe om vir Elisa te gaan soek. Dit raak daaruit duidelik hoe blind sy gode hom gelos het. Moedeloos en gefrustreerd beveel hy sy manskappe om te gaan kyk of hulle hierdie siener in Israel kan vind. Uiteindelik kom die berig dat Elisa in die klein stad Dotan is.
Die oog van die dienskneg
Die Aramese koning omsingel dadelik die stad. Wanneer Elisa se dienskneg dit sien skrik hy baie groot. Hy sien die groot gevaar wat in die vyande van God dreig. Die lewe van die profeet is in gevaar. Daar is oënskynlik geen uitkomkans vir die profeet nie. Dit is partykeer vir ons maklik om wanneer die vyande van die Here ons bedreig ook baie bang te raak. En die gevaar is werklik! Oënskynlik staan die kerk vandag ook nie ’n kans nie. Maar oënskynlik het die kerk eintlik nog nooit ’n kans gestaan nie. Daarom roep Elisa rustig die HERE van die leërskare in gebed aan.
Die oog van die profeet
Die profeet van die Here het anders gesien as die koning van Aram. Dit is vroeg in die verhaal reeds duidelik. Hy het ook anders gesien as sy dienskneg. Dit raak duidelik uit sy gebed. Hy het profeties gesien. Hy het gekyk met oë wat deur die Heilige Gees verlig is. En wat het hy gesien! Die dienskneg sien dit ook uiteindelik. Hy sien wie is werklik in die minderheid. Die koning van Aram is in die minderheid! Hy staan nie ’n kans teen die leërskare van engele wat tussen hom en die Here se profeet die wag hou nie. So sien die profeet en sy kneg uiteindelik die werklikheid vir wat dit is, naamlik meer as wat die blote oog kan sien. Vir ons vandag is dit dan ook belangrik om te kyk met die oë van die geloof. Dan sal ons kan sien dat ons altyd ’n meerderheid is. Die vyand tas maar blindelings om te kyk of hy die Here se kinders skade kan aandoen. As ons kyk met geloofsoë sal ons sake sien vir wat dit is. Ons sal nie net die leërskare wat ons beskerm sien nie. Ons sal sien dat ons Koning wat uit die dood opgestaan het hulle aavoer!