Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word

Skriflesing: Rigters 13:1-7 en 16:1-31 (2020 Vertaling.)           Teks: 13:7 en 16:21            Sing: Ps. 36:2, 3 (Totius); Ps. 4:2, 4 (Totius); Ps.124:1, 3, 4 (Totius); Ps. 40:3, 5 (Totius).

Geroep om die evangelie uit te dra. Is ek getrou?

My getuienis word verduister as ek in my verhouding met God veragter.

Ons hoor in Rigters 13 dat Israel nie meer gevra dat die Here hulle van die oorheersing van die Filistyne verlos nie. Hulle het geleer om in onderdanigheid aan die Filistyne te leef. Dan gee die Here ‘n rigter wat spesifiek ’n nasireër is – iemand wat met sy optrede en voorkoms duidelik aan God toegewy moet wees. Die leiding van hierdie nasireër-rigter, Simson, moes die volk uit hulle vervallenheid laat opstaan en die ware God se regering midde in die heidense wêreld sigbaar laat word.

Uit die gedeelte wat ons vanoggend gelees het (soos ook die vorige twee hoofstukke van Rigters), is dit duidelik dat daar van Simson se nasireërskap weinig tereg gekom het. Hy het juis sy verhouding met God (wat voorop in sy lewe moes staan) nie geag nie. Let op i) die neer-dalende lyn in sy verhouding met die vroue uit die geledere van die mense uit wie se mag hy die volk moes verlos; ii) die groeiende minagting vir sy besondere verhouding met die Here in dit wat hy aan Delila bekend maak; iii) sy verwagting dat hy, al is sy hare afgesny, tog weer vry sal uitgaan en iv) die wraakmotief in sy laaste gebed. Van Simson het daar geen getuienis aan die vervalle Israel uitgegaan nie en ook geen getuienis oor die ware God na die omringende heidene nie. Deur sy verhouding met God nie te ag nie, het hy sy getuienis verduister. Hierdie is ‘n baie sterk waarskuwing vir elke gelowige: wanneer my lewe getuig dat my verhouding met God nie sentraal in my lewe is nie, verduister ek die getuienis wat van my na ander moet uitgaan.

Toewyding aan die verhouding met God bied ‘n skerp getuienis.

Wat met Simson gebeur nadat sy hare afgesny is, is verskriklik.  ‘n Mens kry hom eintlik jammer. Wat ons egter moet raaksien, is dat die verskriklike dinge wat met Simson gebeur, die ontrou van hierdie nasireër-rigter sigbaar maak.

  • Wie waarlik sien, is gereed om te verkondig. L.W. Simson verloor sy oë. Hy het nog altyd op sy oë gereken. Toe hy die Filistynse meisie in Timna “sien”, wil hy in stryd met God se opdrag met haar trou. Soos die volk, het hy net gedoen wat goed is in sy eie “oë.” Hy wat nou fisies blind geword het, was nog altyd geestelik blind. Hy het nie God se plan met sy volk ingesien nie – hy wou dit nie insien nie. Selfs in sy laaste gebed, is sy geestelike blindheid steeds opvallend. Alleen met insig in God se plan, alleen as ek geestelik kan sien, sal ek kragtig kan getuig.                           
  • Wie waarlik vry is, is gereed om te verkondig. L.W. Simson verloor sy vryheid. Hy het nog altyd gegaan waar hy wou en gedoen wat hy wou. Hy het gedink hy is vry om homself en sy luste te bevredig. Waar hy nou as gevangene die meul moet draai, word hy maar net wat hy nog altyd was: ‘n slaaf. God het sy volk vrygemaak sodat hulle hom in liefde en dankbaarheid sou dien. Alleen as ek met die vryheid wat ek in Christus ontvang het, die Here dien, gaan daar van my kragtige getuienis na buite.                                                                                                                                                             
  • Met kennis van my ware identiteit, is ek gereed om te verkondig. L.W. Simson het sy waardigheid verloor. Hoe het hy nie by een en elk respek afgedwing met sy bomenslike krag nie? Hoe onwaardig was hy egter nie in al sy optredes nie? Van die waardigheid van iemand wat deur God afgesonder is, het niks tereg gekom nie. Eers as ek regtig verstaan wie God my deur Jesus Christus en deur die Gees gemaak het, sal ek skerp getuienis kan lewer.                                                                                                                                                                                                                                    
  • Wie naby God leef, is gereed om te verkondig. L.W.Simson het God se teenwoordigheid verloor. Hy wat nog altyd met die krag van die Here opgetree het, maar geen agting gehad het vir die teenwoordigheid van die Here Self nie, verloor nie net sy lokke nie. Die Here Self het hom verlaat (v. 20). Soos hy geleef het, so word dit nou! Alleen wanneer my lewe daarvan getuig dat ek naby die Here self leef, sal my getuienis gewig dra. Hoe groot is God se genade nie, wanneer Hy Hom weer oor Simson ontferm (vgl. v. 22 en 30).