Johannes 19:31-37
‘Een van die soldate het egter met ‘n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom.’
DIE HART VAN DIÉ KONING
In Johannes 19 word daar ‘n aantal keer verwys na vorige gedeeltes uit die Bybel. ‘n Paar keer sê Johannes – ‘Hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word.’ Johannes laat hiermee sien, dat God se Woord betroubaar is. Soos wat dit geprofeteer is, so sal dit ook gebeur. Dit wat hier staan is nie deur mense uitgedink nie, dit gebeur alles volgens God se plan. In vers 35 sê hy – ‘Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom.’
Die Koning aan die kruis
Aan die kruis van Golgota sterf ‘n Koning – Die Koning. “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” (Johannes 19:19) Dit is die opskrif wat aan die kruis vasgemaak is. Dit staan bo die kop van Jesus. Elkeen kan dit lees. Dit is nie ‘n titel sonder inhoud nie. Jesus is werklik die Koning. Al is sy koningskap nie van hierdie wêreld nie, maar vanuit die hemel. Dit word duidelik uit sy optrede en sy woorde. Die bitter lyding wat Hy op Hom neem. Hy is ‘n Koning in vernedering. Hy is die Koning-Kneg.
Sy liggaam deurboor vir ons genesing
Jesus se bene is nie gebreek nie, maar sy liggaam is wel deurboor. Hoekom het hulle dit gedoen? Hoekom word sy bene nie gebreek nie, maar sy organe vermink? Hoekom deurboor hulle Hom, nadat hulle sien dat Hy reeds dood is? Vers 34 sê – ‘Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie.’ Jesus Christus is deurboor, sy liggaam is verwond en vermink, om vir ons aan te toon dat daar vir ons genesing is. In die verheerlikte liggaam van Jesus is hierdie wonde nog sigbaar. ‘Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig.’ (Johannes 20:27) In artikel 21 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons daarom ook dat ons volkome vertroosting in sy wonder vind.