1 Tessalonisense 4:13-18
1 Korinthiërs 15:1-11
‘Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.’
Nicea [4a] – Verwonderd oor die opstanding van Jesus Christus
Op Goeie Vrydag is ons Here Jesus Christus gekruisig. Nadat Hy gesterf het, het hulle sy liggaam met ‘n spies deurboor en daarna is Hy begrawe. Op die Sondagoggend gaan besoek van die vroue en die dissipels die graf van Jesus. Maar toe hulle daar kom was Jesus nie meer daar nie. Hy het opgestaan. Die mense by die graf was verbaas, hulle kon nie glo wat gebeur nie. Na die gesprek met die twee manne in blink klere, vertrek hulle daar vol verwondering. By Petrus was dit ook die geval. Hy het geweet Jesus sou opstaan, en toe dit gebeur is hy verslae, vol verwondering. In 1 Korinthiërs lees ons dat die Skrifte getuig van die opstanding van die Here en dat Hy aan mense daarna verskyn het. Aangrypend dat dit orals mense tot by verwondering bring.
Oorwinning van die dood
In die hoogste wysheid van die wêreld is dood, dood. As iemand die graf in gaan is dit die einde. Daar volg niks meer nie. Vir mense wat die Here nie ken nie is die dood angswekkend. Dit is werklik iets om te vrees. Vir die kinders van God is dit anders. Danksy die dade van Jesus Christus het die dood sy angel verloor – die dood is oorwin. Die dood het nie mag oor ons nie, omdat ons in ewigheid saam met God sal lewe.
Opwekking tot nuwe lewe
Hier op aarde word ons opgewek tot ‘n nuwe lewe. Dit is die effek van die opstanding van Jesus hier. Aan die kruis het Christus betaal vir ons sondes, Hy het ons vrygekoop en deurdat hy opgestaan het uit die dood wek Hy ons op om op te staan uit ons sondige lewens. Die ou sondige mens moet agtergelaat word en elke dag moet jy jou beywer om jou hele lewe aan Christus te wy.
Versekering tot in ewigheid
Deur die opstanding van Christus word ons ook verseker van die opstanding van ons liggame met die wederkoms. Op die dag wanneer Christus terugkeer na die aarde toe sal alle grafte oopgaan. Almal wat in Christus ontslaap het se liggame sal verheerlik word. Ons liggame sal met ons siele herenig word. Daar sal geen siekte en beperkings wees nie en ons liggame sal verheerlik word soos Christus se liggaam.