2 Korinthiërs 3
‘Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.’
NICEA [7] – WAAR DIE GEES VAN DIE HERE IS, DAAR IS VRYHEID
Vryheid is om te lewe sonder angs. Dit is een van die definisies van die woord. Tog is daar nog gereeld angste in ons lewens. Al glo ons in Jesus Christus, is ons bang vir alles en nog wat. Bang vir wat ander mense dink, bang om kwesbaar te wees, bang om beheer te verloor, bang om nie goed genoeg te wees nie, bang vir veroordeling, bang om eerlik te wees. Dalk herken jy iets hiervan in jou eie lewe. Dit is deel van die geestelike stryd. Juis die vryheid wat ons ontvang, word aangeval sodat ons nie durf om in hierdie vryheid te leef nie. Hierdie saak word in 2 Korinthiërs 3 vir ons uitgelig. In die gedeelte ontdek ons dat die genade van Jesus ons bevry. Hy gee vergewing van ons sondes, Hy genees ons wonde, en Hy bevry ons van die bande hier op die aarde.
Gebind deur die sonde
In die Bybel word ons geleer, dat ons deur die geloof bevry is van ons sondes. Tog is ons nie volledig verlos van die lewe van die vlees nie. Daardeur loop jy voortdurend die gevaar, om ‘n nuwe juk vir jouself op te lê. Soos Paulus skryf in Galasiërs 5:1 – ‘Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder ‘n juk van slawerny indwing nie!’ Voorbeelde van hierdie slawejuk, dinge waardeur ons gebind word: Dit is daar waar mense se gedagtes begin bepaal en nie God se Woord nie.
Bevry deur die Gees
In die Bybel is bevryding ‘n uiters belangrike tema. In die Ou Testament is die bevryding uit Egipte die groot gebeurtenis. God se wet, wat Hy vir Moses gegee het, begin daarom ook met ‘n bevrydende handeling – ‘Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het.’ Die Here is ons Bevryder. Hierdie bevryding het uiteindelik in Jesus ‘n volkome werklikheid geword. Sy kruis maak ons vry. Daarom leef ons nou in die nuwe verbond. Dit is die bediening van die Gees. Die vryheid waarvan Paulus praat, is die vryheid van die veroordeling van die wet, want dit is deur Jesus vervul. Die nuwe verbond gaan oor die lewendmakend wet wat deur die lewendmakend Gees in ons harte geskryf word.
Geestelik bekwaam
God se genade bevry ons. Daardeur is jy bekwaam om in hierdie vryheid te leef. Dit beteken dat heelwat in jou lewe verander. Vers 18 sê – ‘En ons almal…word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.’ Daarom – Haal die sluier af. Ontdek jou nuwe identiteit in Christus. Weet dat jy bevry is deur die kruis.