Skip to content
Menu

Lukas 5:12-32

“Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”

GESOND DEUR JESUS CHRISTUS

In die evangelies maak die Here aan ons bekend wie sy Seun Jesus Christus is. Dit sien ons baie duidelik in die gedeelte wat ons gelees het. Van oraloor het mense gekom om Hom te sien. Om deur Hom genees te word. Dit was wat hulle wou gehad het. Dit was waarskynlik waarop die mense gefokus was. Aan die mense maak Jesus nou duidelik, waarvoor Hy werklik na die aarde gekom het. Dit is waarvan sy boodskap getuig. Hy het gekom sodat mense se sondes vergewe kan word. Dit is die kern van sy boodskap. In hierdie gedeelte maak Hy aan die mense bekend dat Hy nie maar net ‘n mens is nie, maar dat Hy God is en dat Hy in staat is om mense werklik te genees. Om hulle te red en lewe te gee.  Hierby skakel die genesing van die verlamde man en die roeping van Levi in.

Die almag van Jesus Christus

Vir ons as mense om genees te word, moet ons eers besef dat ons siek is. Dit is die grootste probleem wat ons het. Die groot gevolg van die sonde, is dat jy nie sien dat jy sonde het nie. Die sonde maak jou blind vir die toestand waarin jy verkeer. Voordat bekering moontlik is, moet jy insien dat dit nodig is om te bekeer. In Romeine 1 skryf Paulus aan die gemeente dat die Here se toorn oor die mense is, wat volhou om die waarheid te onderdruk. Om die rede gee God baie mense oor aan hulle verlangens. Dit is wat met die sondige mens fout is. Hy onderdruk die Goddelike waarheid. In sy almag sien Jesus mense aan.

Die vrymag van Jesus Christus

Die woorde wat Jesus vir die verlamde man sê is groot. ‘Kind, jou sondes word vergewe.’ Dit is weg. God sal nooit meer daaraan dink nie. Dit is moeilik om die grootheid hiervan te besef. Dat God jou as mens vergewe. Dat Hy jou sondes wegvat. Christus kyk jou aan. Hy sien jou raak in jou geheel en dan mag jy hoor: Jou sonde is vergewe. Onvoorstelbaar dat die so maklik kan gebeur. Maar ons sien hier. Jesus is God. Hy gebied en dit gebeur.  Hy praat en dit is so. Sy woord is betroubaar. Vir hierdie vergewing moet Hy heelwat doen.

Die volmag van Jesus Christus

In vers 24 staan: ‘Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe …’ Daarop genees Jesus die man om sy gesag te bevestig. Maar Hy noem Homself hier die Seun van die Mens. Dit is nogal belangrik dat Hy Homself so noem. Want die mense moet besef dat Hy as mens God is. Juis dit wat die skrifkenners as laster beskou. Want hoe kan Jesus as mens sê Hy is God, behalwe as Hy waarlik God is. Daarom sê Hy nou – Die Seun van die mens het volmag.