Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Lees: Lukas 22:63-23:5           Belydenis: Heidelbergse Kategismus Sondag 15 v&a 37          Teks: Lukas 22:70        Sing: Ps. 122-1:1,2; Ps. 73-1:11,12; Sb. 10-1:1,2,3,4; Ps. 2-1:1,4,6

‘Toe vra hulle almal: “Is jy dus die Seun van God?” En Hy antwoord hulle: “Dit is julle wat sê dat Ek is.”

DIE AANKLAG TEEN JESUS CHRISTUS

In Lukas 22 verskyn Jesus Christus voor die Sanhedrin. Die gedeelte wat ons gelees het stel elkeen voor die vraag: Is jy vir Jesus of is jy teen Hom? Vir Jesus beteken dat jy vergewing van sondes net by Hom soek, dat jy leiding in die lewe net van Hom verwag, dat jy jou hele hart aan hom oorgee, dat jy in moeilike situasies, in jou lewe, op jou werk, of in jou verhoudings, laat lei deur die vraag: wat sê Jesus deur sy Woord en Gees vir my? Vir Jesus beteken dat jy erken dat jy sonder Hom God nie kan ken nie. Dat Hy die grootse skat is wat jy ontvang, en dat jy elke oomblik van jou lewe in sy voetspoor wil volg. Teen Jesus beteken dat jy Hom afwys, dat jy Hom minag,  dat jy Hom uit die pad wil hê, dat jy Hom kruisig. Dit klink nogal radikaal, want dit is radikaal. In Lukas 22 sien ons. Jy is of vir Christus, of jy is teen Hom. Dit is belangrik vir ons om vandag weer te besef. Om diep onder die indruk daarvan te kom.

Die aanklag van die raad

Nadat Jesus deur Judas verraai is, het hulle Hom na die hoëpriester se huis gebring.  In die huis van die hoëpriester sien ons ‘n groot skynvertoning. Daar kom die hele Sanhedrin bymekaar. Dit was die regbank van die Joodse volk. Hierdie raad veroordeel die Seun van God onregmatig. Die hele aangeleentheid daar is onwettig. Daar is meerdere redes daarvoor. Die tyd wat dit gebeur maak dit onwettig. Die plek waar dit gebeur maak dit onwettig. Ook die verloop van die verhoor is onwettig.

Jesus se antwoord

Jesus verbreek die stilte. Te midde van die bose en gefrustreerde stemme, hoor ons die kragtige, sagmoedige en helder stem van Jesus. “Dit is julle wat sê dat Ek is.” Dit maak die Sanhedrin woedend. Onthou hoe God Hom aan Moses by die brandende bos bekend gemaak het:  ‘Ek is wat Ek is’ (Eksodus 3:14). Hier bevestig Jesus dit. Ek is. Hy noem nie Homself die Seun van God nie. Hy sê Hy is dit. Hy is God. Deur die evangelies weergalm hierdie ‘Ek is’.

Die raad se oordeel

Die klag word godslastering. Al van Moses af was die straf daarop die dood. Vir geen oomblik dink hulle dat Jesus regtig God is nie. Dit wil hulle nie glo nie. Dit is in elk geval vir hulle te gevaarlik om te glo. Vir hulle gevestigde orde is Jesus ‘n bedreiging. Vir ons vandag is dit anders. Met dankbaarheid mag ons erken: Ons is vir Jesus Christus. Op basis van Hom wat ‘Ek is’ is, op basis van alles wat Hy gedoen het, kan ons vandag bely – Ek is ‘n kind van die Here.