10 Augustus 2025 – Oggend
In die aanhef van sy brief aan Titus gee Paulus ‘n kragtige uiteensetting van wat die Christelike lewe behoort te wees: geloof, kennis van die waarheid, en ‘n godsalige lewe. Hierdie drie vorm ‘n ketting wat nie gebreek kan word nie.
Eerstens wys Paulus dat geloof van God af kom. God roep mense tot geloof — Hy kies uit, werk wedergeboorte en plant geloof in die harte van sy kinders. Hierdie geloof is ‘n vaste oortuiging dat God sy beloftes nakom en dat Christus ons Verlosser is.
Maar geloof staan nie stil nie. Dit moet groei. Paulus beklemtoon dat gelowiges in kennis van die waarheid moet toeneem. Hierdie waarheid is nie vaag of teoreties nie — dit is die lewende Woord van God, en dit vorm ‘n gelowige se denke, hart en lewe. Sonder ‘n groeiende kennis van God se Woord, bly geloof swak en word dit maklik verwar deur dwaalleer.
Die einddoel van hierdie geloof en kennis is ‘n lewe van godsaligheid — ‘n lewe wat sigbaar anders is. ‘n Gelowige wat in die waarheid gewortel is, leef eerbiedig, nederig en gehoorsaam. Sy leefwyse is ‘n getuienis tot eer van God. Godsaligheid beteken om op die pad van gehoorsaamheid te loop, al is die wêreld om jou losbandig en korrup.
Paulus herinner Titus (en ook die gemeente) dat hierdie geloof, kennis en godsaligheid gebou is op die hoop van die ewige lewe — ‘n belofte van die God wat nie kan lieg nie. Hierdie hoop rus nie op mense se pogings nie, maar op Christus se gehoorsaamheid en volmaakte werk.
Die toepassing vir ons is duidelik: die kerk mag nooit die prediking van die Woord afwater of verruil vir iets anders nie. En elke gelowige moet erns maak met groei in die Woord sodat ons as individue, gesinne en gemeente Godsvrugtig kan leef.
Geloof. Kennis. Godsaligheid. Dit is God se pad van genade.
En dis ons roeping: leer, lewe, en leef tot sy eer.