Skip to content
Menu

Eksodus 1 wys vir ons ’n donker tyd in Israel se geskiedenis. Nadat Josef en sy geslag gesterf het, het ’n nuwe Farao opgestaan wat niks van Josef wou weet nie. Hy sien die volk van God nie as ’n seën nie, maar as ’n bedreiging. Daarom maak hy planne: hy onderdruk hulle met harde werk, hy probeer hulle getalle beperk, en eindelik beveel hy dat hulle seuntjies in die Nyl gegooi moet word.

Dit is die vyand se taktiek deur die eeue: wat God seën, probeer hy in ’n vloek verander. God gee kinders as ’n seën; die wêreld sê dis ’n las. God gee werk as diens aan Hom; die wêreld maak dit slawerny en selfbehoud. Wat die Here gee tot lewe, wil die bose omdraai tot dood.
Maar die Woord wys vir ons iets groters: “Hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig” (Eks. 1:12). God se planne kan nie gekeer word nie. Die Farao se slim planne loop op niks uit nie. Selfs sy eie dogter word die middel waardeur Moses, die toekomstige leier van Israel, gespaar word.
Uiteindelik wys die Here dat Hy sy volk nie verlaat nie. Soos Hy Moses bewaar het in die mandjie, so bewaar Hy ons onder die bedekking van Christus se bloed. By die kruis word die grootste aanval van die Satan self omgekeer: Christus se vervloeking word ons seën.

Ons leef vandag steeds in ’n wêreld wat bedreig voel deur God se seën en Sy Seun. Die aanslae is daar: ons word oortuig dat ons geloof ’n las is, dat kinders te duur is, dat gehoorsaamheid aan God ons vryheid steel. Maar ons troos bly: God is vir ons – wie kan teen ons wees?
Hou vas daaraan: geen mag, geen koning, geen duiwelplan kan keer dat die Here sy seën volvoer nie.
“As God die seën wil sprei, wie kan dit Hom verhinder?”
Ds. Jan-Louis Lee
janlouis@scriptura.co.za