In Handelinge 4 sien ons hoe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad verskyn nadat hulle ’n kreupele man in die Naam van Jesus genees het. Hulle word uitgedaag om te verduidelik deur watter mag dit gebeur het. Petrus, vervul met die Heilige Gees, antwoord sonder huiwering: dit is deur Jesus Christus, die hoeksteen wat die bouers verwerp het. Hy verkondig duidelik dat daar in géén ander Naam verlossing is nie.
Wat die Raad tref, is nie net die boodskap nie, maar ook die vrymoedigheid van hierdie “ongeleerde” manne. Hulle besef: hierdie mense was saam met Jesus. Dit is die sleutel – naby aan
Christus, vervul met sy Gees, het hulle die moed om op te staan teen oorweldigende opposisie.
Hierdie vrymoedigheid beteken nie ongeskik of uitdagend wees nie. Dit is die dapperheid om duidelik en eerlik te bely, selfs wanneer dit ongewild is of gevaar inhou. Petrus, wat vroeër uit vrees Jesus verloën het, getuig nou met vaste geloof omdat die Gees hom lei.
Ons leef ook in ’n tyd waar dit makliker voel om stil te bly – waar politieke korrektheid, relativisme en vrees vir kritiek ons laat swyg. Maar die Here roep ons om nie net in ons harte te glo nie, maar met ons monde te bely en met ons lewens te wys dat ons aan Christus behoort.
Vrymoedigheid groei waar ons onsself aan die Woord onderwerp en tyd saam met Jesus deurbring. Dit is die Gees wat ons herinner dat Christus die enigste Verlosser is en ons versterk om dit openlik te bely.
Mag mense in jou lewe ook herken: hierdie persoon was saam met Jesus.
“En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander Naam onder die hemel gegee waardeur ons gered moet word nie.” (Hand. 4:12)
Ds. Jan-Louis Lee
janlouis@scriptura.co.za