Skip to content
Menu

Die Psalmdigter van Psalm 42 en 43 leer ons dat geloofsworsteling deel is van elke kind van God se lewe. Selfs ná geloofshoogtepunte kan twyfel ons onverwags oorval. Ons vra vrae: Waarom voel ek so alleen? Waarom laat God dit toe? Waar is Hy dan nou? Die Psalmdigter beskryf dit soos ‘n stormsee – golf na golf slaan oor hom, en sy trane word sy brood. Sy vyande spot: “Waar is jou God?” Tog, juis in hierdie donker tye leer die Here ons.

Die refrein van beide Psalms lui: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof.” Hier word ons geleer om in ons twyfel nie weg te draai nie, maar juis na God toe te vlug. Hoop beteken: wag, vertrou, en vashou aan God, selfs wanneer ons emosies en omstandighede die teenoorgestelde skree.

Die digter herinner homself aan God se goedheid in die verlede – hoe hy saam met die gemeente gejuig en God se teenwoordigheid beleef het. Só word herinnering ‘n anker: God het nooit verander nie. Hy wat vroeër uitkoms gegee het, sal weer red. Daarom bid hy: “Stuur u lig en waarheid, dat hulle my lei.” God self bring ons terug in sy teenwoordigheid, nie ons eie krag nie.

Ons troos lê uiteindelik daarin dat Christus die volle diepte van Godverlatenheid aan die kruis deurgemaak het. Hy het die spot verduur: “Waar is jou God?” Hy het die beker van God se toorn gedrink, sodat ons nooit werklik verlate sal wees nie. Omdat Hy opgestaan het, kan ons weet: Hy is ons Helper en ons God. Wanneer twyfel jou oorval, herinner jou hart: God se aangesig bring verlossing. Vlug met jou twyfel na jou Vader – Hy los jou nooit alleen nie.