Skip to content
Menu

Die wêreld om ons lyk onstabiel. Nuus van oorloë, korrupsie en geweld kan ons maklik laat dink dat alles buite beheer is. Tog herinner Esra 1 ons dat God sy kinders nie aan hulleself oorlaat nie. Hy is die soewereine Koning wat die geskiedenis bestuur – selfs deur heidene.

Esra begin met ’n klein maar kragtige woord: “En.” Hierdie woord bind die ballingskap in Babilon aan God se verlossingswerk daarna. Israel se sonde het tot straf gelei, maar dit was nie die einde nie. God het deur Jeremia beloof dat Hy sy volk na sewentig jaar sou terugbring. Nou vervul Hy daardie woord – selfs deur Kores, ’n heidense koning.

Kores se motiewe was polities en selfs selfsugtig. Hy wou die Jode as ’n buffer gebruik. Hy het die gode van verskillende volke erken en aanbid. Tog sê die Skrif: “Die HERE het die gees van Kores opgewek.” Hier sien ons dat God se planne nie afhanklik is van mense se opregte geloof of goeie bedoelings nie. Selfs die harte van konings is in sy hand. Kores beveel dat die tempel herbou moet word en maak voorsiening dat die ballinge kan terugkeer. So word Jeremia se profesie vervul en die verbondsgemeenskap herstel. God gebruik selfs die gawes van dié wat agterbly om sy huis te herbou. Waar die volk hulpeloos in ballingskap was, gee Hy ’n “en” van genade – ’n nuwe begin.Dieselfde geld vir ons. Ons eie sondes sou ons in ’n ewige ballingskap kon hou, afgesny van God. Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun gestuur. In Christus het Hy ons uit die slawerny van sonde en dood teruggebring. Nou is daar vir elke gelowige ’n nuwe begin – ’n “en” van verlossing.Wanneer die wêreld vandag woed, onthou: God is in beheer. Hy gebruik selfs die magte van die dag om sy doel te bereik. Vertrou Hom – Hy vervul sy beloftes.