Skip to content
Menu

In Handelinge 12 word Petrus deur Herodes Agrippa I in die tronk gegooi. Sestien soldate bewaak hom – menslik gesproke is daar geen uitkoms nie. Die kerk bid aanhoudend vir hom, maar toe die Here hom bonatuurlik bevry, is hulle… verbaas.
Dis juis die ironie: hulle het gebid, maar nie verwag dat God sal doen wat hulle vra nie. Petrus staan en klop aan die deur – en hulle glo dit nie is hy nie!

Hulle is oorweldig, onkant gevang deur die almag van God.
En tog is God se optrede nie grillig of onvoorspelbaar nie. Hy red Petrus, maar laat Jakobus sterf. Waarom? Want God is soewerein. Hy is nie verplig om ons planne te volg nie. Hy doen alles tot sy eer, tot die uitbreiding van sy Koninkryk – en dit is altyd goed, reg en wys.
Maar hoe lyk ons reaksie? Party verwerp God se almag soos Herodes – ander, soos die kerk, bid sonder werklike vertroue. In beide gevalle word God se almag onderskat. Ons bid vir sy ingryping, maar as Hy optree, weet ons nie wat om daarmee te maak nie. Ons is verbaas, selfs ontsteld.
Petrus slaap rustig, want hy weet: sy lewe is in God se hand. Hy is nie verras as God hom red nie – want hy glo dat God kan, en dat God sal, volgens sy wil.

3Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan en ook vir Petrus gevange laat neem. Dit het tydens die fees van die ongesuurde brood gebeur.
16Intussen het Petrus aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas.
24Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen.
Handelinge 12: 3, 16, 24

Laat ons ook so glo. Laat ons nie oorweldig wees as God sy almag openbaar nie – maar verwonderd. En laat ons bly getuig: “Maar die woord van God het gegroei en toegeneë.
Ds. Jan-Louis Lee
janlouis@scriptura.co.za