Skip to content
Menu

Die begin van ’n nuwe jaar bring vir baie mense hoop, maar ook onsekerheid. Deuteronomium 34 en Josua 1 wys dat ’n onbekende toekoms nie ’n krisis vir God se dienaar hoef te wees nie. Israel staan op ’n keerpunt: Moses, die groot leier, is dood. ’n Belangrike hoofstuk is afgesluit, en ’n nuwe een begin. Die volk moet vorentoe, al is die pad onbekend.

God self maak dit duidelik: hierdie einde is nie toevallig nie. Moses sterf volgens die bevel van die Here. Die Here bepaal tye en grense; ons lewens is in sy hand. Daarom hoef die dood van ’n leier, of die afsluiting van ’n lewensfase, nie wanhoop te bring nie. Dit bring wel vrees, want die onbekende maak ons onseker. So was dit ook vir Josua. Hy moes ’n volk lei, ’n vloeiende Jordaan oorsteek en vyandige gebied inneem. Tog hoor hy God se belofte: “Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees.”

Die Here berei sy dienaars vooraf voor. Josua is nie toevallig gekies nie. Hy het God se dade gesien, die beloftes gehoor en die land verken. Sy naam herinner hom daaraan dat verlossing van die Here kom. Hy moes leer: ek is nie die redder nie, maar die Here is. Daarom kan hy met moed vorentoe gaan.

God gee ook ’n padkaart vir elke krisis: sy Woord. Deur vas te hou aan God se wet, bly sy kinders op die regte pad. Ware sukses lê nie in gemak nie, maar in gehoorsaamheid. Selfs Moses se lewe wys dit. Al het hy gefaal, het God hom nie verwerp nie. Op die berg van verheerliking sien ons dat God se genade groter is as menslike swakheid. Uiteindelik wys alles na Jesus Christus, die volmaakte Dienaar. In Hom het ons sekerheid, selfs in die laaste krisis, die dood.